Local newsNewsNews

Klereontwerper is ‘n kreatiewe entrepreneur

KlereKlasPlus se ontwerper is 'n entrepreneur wat kreatief dink en alles met tonne lewenslus aanpak.

VANDERBIJLPARK. – Madeleine Coetzee was vir byna drie dekades deel van die korporatiewe wêreld, maar in haar hart het sy geweet sy wil ‘n entrepreneur wees.

“My ouers was albei onderwysers in Vanderbijlpark, tot my pa die Groei en Bloei-kwekery begin het. Dit is waar ek besluit het ek gaan ook eendag my eie ding doen,” sê sy.

Einde 2020 het sy die groot stap geneem en in Maart vanjaar het sy haar eie klerereeks, KlereKlasPlus, bekend gestel. Die reeks bestaan uit gemaklike, stylvolle klere vir vrouens wat groter nommers dra.

Die KlereKlasPlus klere is prakties en stylvol. Foto: Verskaf

Sy het jare gelede klereontwerp by die destydse Vaaldriehoek Technikon (vandag bekend as die Vaal University of Technology) studeer. Haar loopbaan het haar egter in ‘n ander rigting geneem as bemarker in die mediese bedryf.

“Ek was nog altyd baie kreatief en het my deur die jare besig gehou met verskeie kreatiewe stokperdjies, van kunsklasse tot mosaïek,” vertel sy. Nou het sy twee van haar stokperdjies in besighede omskep, die ontwerp van klere en dan haar pottebakkery.

“Ek geniet dit nou al vir jare om pottebakkery te doen. Dis vir my baie ontspannend om ‘n bolletjie klei op die wiel te sit en twee ure later ‘n bak klaar te hê. Elkeen is uniek. Ek het gelees ‘n entrepreneur moet nooit alles in een besigheid stoot nie, daarom het ek begin om die bakke ook te bemark,” vertel Madeleine opgewonde.

Van die kleurvolle bakkies wat Madeleine maak. Foto: Verskaf

Haar dogter, Hay-Lee Bergman, help haar met die grafiese ontwerp en bemarking. “Die nuwe besigheid is vir my ‘n groot leerskool. Gelukkig hou ek daarvan om nuwe goed aan te leer. Die ergste vir my was toe Hay-Lee sê ons moet sommer self model speel vir die klere katalogus. Die fotonemery was vir my baie erg,” lag sy.

Vir meer inligting, besoek gerus die Facebookblad, KlereKlasPlus.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button