Rotariërs geniet potjiekos en samesyn
Die immergewilde beesstertpot was weer nommer een by hierdie jaarlikse potjiekoskompetisie.
VANDERBIJLPARK. – Die geroesmoes van stemme en geure het weer wyd oor die Old Vaaltonian Sportklub se velde getrek op Sondag, 18 April. Die Vaal se Rotary Klubs het bymekaargekom om sake uit te spook in hul jaarlikse potjiekos kompetisie.

Al vier die klubs het hierdie jaar potjies ingeskryf en die potte het vroeg al begin prut. Elke klub het ook ‘n tafel volgens tema gedek waar die vier beoordelaars kon aansit en pot proe. Die Rotary Klub van Vanderbijlpark het ‘n kerrie lamsnekpot op die kole gehad. By Riverside het ‘n goulashpot geprut, terwyl Henley on Klip/Meyerton ‘n Thai chillie hoenderpot gemaak het.

Die wenpot van die dag was die Rotary Klub van Vereeniging se beesstertpot. John Marshall was daar aan die stuur van sake met goeie gevolge. Die potjiekoskompetisie is verlede jaar vir die eerste maal gehou nadat die Rotary Klub van Riverside met die blink gedagte vorendag gekom het. Daar is nou elke jaar ‘n wisseltrofee op die spel. Verlede jaar het die Rotary Klub van Meyerton/Henley on Klip gewen met hulle beesstertpot.

Die dag het ‘n drieledige doel gehad. Ten eerste vir die verskillende klubs se lede om mekaar beter te leer ken, ten tweede om moontlike nuwe lede te werf en derdens as fondsinsameling vir die Rotary Trust Fonds. Almal was dit eens dat dit ‘n baie lekker en suksesvolle dag was. Na maande van isolasie het hulle dit geniet om weer saam te kuier.
