Vele ‘vreemde’ karakters by Sasol Hoër opgemerk
By Hoërskool Sasolburg High School (SHS) is daar altyd iets aan die gebeur, veral as Thor die dag opdaag.
SASOLBURG – Vrydag, 9 April was Hoërskool Sasolburg High School (SHS) behoorlik in rep en roer. Daar het soveel vreemd geklede figure rondgeloop, ‘n mens kon jou verbeel Hollywood het in die dorp kom nesskop.
Volgens berigte is Thor in die hoof se kantoor gesien. Superman het Afrikaans aangebied en Wonder Woman was beslis ook in die omtrek. Tinkerbell het die graad 8’s laat giggel en die graad 11’s se register juffrou het langs die dammetjie tydens albei pouses gemaak asof sy op die strand is.

Verskeie ander bekende superhelde is ook gesien en dan was daar ‘n paar “leerlinge” wat skielik effens lank in die tand vir hul skoolklere gelyk het. Al die vreemde karakters op die skoolterrein was deel van die skool se jaarlikse Borgloop, wat weens Covid-19 bietjie anders gedoen moes word.

“Ons Borgloop is al sedert 1971 ‘n tradisie by die skool. Elke klas moet ‘n sekere bedrag insamel en wanneer die klasse sekere mylpale bereik, kon hulle hul register onderwyser of die bestuurspan van die skool “dare” om vir ‘n dag iets snaaks aan te trek. Hoe meer geld ingesamel is, hoe groter word die uitdaging,” sê Nico Roux wat die skool se bemarking hanteer.

Hierdie jaar het die leerlinge weer met baie kreatiewe en uiteenlopende idees vorendag gekom. Die personeel het saamgespeel, met prettige gevolge.

“Hier by SHS is dit vir ons baie belangrik om die skool vir leerlinge en onderwysers so lekker as moontlik te maak en hierdie was net nog ‘n voorbeeld daarvan,” het Nico laat weet.
