Vaalpark Primêr se bont kouse en suigstokkie-dae
Vaalpark Primêre Skool onderskryf sewe waardes wat op 'n soet en prettige manier aan die kinders oorgedra word.
VAALPARK. – Om waardes aan jong kinders te leer, kan ‘n uitdaging wees. Vaalpark Primêre Skool het besluit om die skool se sewe waardes op ‘n soet en prettige manier aan die leerlinge oor te dra.
Die skool het die waardes aan spesifieke kleure gekoppel en toe ‘n suigstokkie-projek geloods. Ouers betaal vir sewe suigstokkies (een vir kwartaal een en twee elk vir die ander drie kwartale).

Die leerlinge ontvang hul suigstokkies Woensdae en Donderdae oggende in die register periode, maar mag dit nie dadelik eet nie. Die waarnemende skoolhoof, Jannie Erasmus, kondig dan deur die loop van die dag af wanneer almal hul suigstokkies mag eet.
Dit kan enige tyd van die dag wees, selfs in klastyd! Die betrokke waarde word dan in die klas bespreek. Op hierdie spesiale waarde-suigstokkie dae word die leerlinge ook aangemoedig om gekleurde of snaakse kouse saam met hul skoolklere aan te trek.
Kwartaal 1 se waarde-suigstokkie dae het op 7 April en 8 April plaasgevind. Dit strek oor twee dae, want weens die Covid-19 maatreëls gaan die leerlinge op verskeie tye skool. Almal was dit eens dat die leerlinge hul eerste suigstokkie-dag baie geniet het.

Op die skool se Facebookblad is die betekenis en doel van die waarde dae soos volg uiteengesit: “Eerstens moet hul selfdissipline toepas deur nie hul stokkie voor die tyd te eet nie. Wanneer hul dan wel die suigstokkie eet, word hul smaak geprikkel, wat positief is, want dit is een van die maniere waarop die liggaam werk om te onthou. Tweedens sien hul die snaakse kouse wat die kinders dra, wat ook een van hul sintuie aktiveer. Die inligting word dus in die kinders se geheue vasgemaak, wat in hul alledaagse optrede sal manifesteer.”
Die skool se sewe waardes is: omgee (rooi), respek (groen), selfdissipline (geel), aanspreeklikheid (blou), betroubaarheid (oranje), invloed (pers) en diversiteit (grys).
Vir meer inligting oor hierdie benadering om waardes te leer en te onthou, besoek die skool se Facebookblad, @vaalparkprimaryschool.
