Jou tien gewildste artikels op inbrekers se wenslys
Ondanks die Covid-inperking van die afgelope jaar is huisbraak steeds een van Suid-Afrika se mees algemene misdade.
Hoewel misdadigers die frustrasie het dat baie huisbewoners deesdae bedags tuis is omdat hulle van die huis af werk, stuit dit hulle nie heeltemal nie. In die Vaaldriehoek, soos elders in die land, kom dit toenemend voor dat daar nou snags terwyl huisbewoners slaap, stilletjies ingebreek word.
Die afgelope jaar se misdaadsyfers is nog nie bekend nie maar volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) was daar in 2019 meer as 1.3 miljoen huisbrake in die land. Slegs sowat die helfte hiervan is by die polisie aangemeld. StatsSA se ondersoek dui daarop dat 5.8% van alle huishoudings in Suid-Afrika slagoffers van huisbraak was. 120 000 huisrooftogte is daardie jaar by die polisie aangemeld. Die misdadigers was in meeste gevalle met vuurwapens bewapen.
Volgens Auto & General se versekeringsafdeling, Virseker, is die maande vanaf Oktober tot einde Desember inbrekers se besigste tyd. Dit neem slegs 5 tot 12 minute vir ‘n dief om by die gemiddelde huis in te breek en spore te maak.
Eise-data van Virseker toon dat diewe ‘n voorkeur vir sekere huishoudelike items het, wat vinnig tydens ‘n strooptog gebuit kan word. Die top tien gunstelinge op inbrekers se lys is:
* Kontant
* Beursies
* Vuurwapens
* Draagbare rekenaars en selfone
* Juweliersware
* Elektroniese ware soos TV’s
* Huishoudelike toestelle soos mikrogolfoonde
* Hekmotors
* Jou identiteit
* Voertuie
Ander navorsing toon dat skedule-medikasie ook hoog op diewe se wenslysie is.
Dit blyk dat inbrekers eerste na waardevolle, liggewig artikels in jou leefkamer, hoofslaapkamer en -kaste sal soek. Steek dus waardevolle artikels soos juwele slim weg. Hoewel diewe badkamers nie heeltemal ignoreer nie, word dié vertrekke makliker oorgeslaan.
Vuurwapens is steeds besonder gewild omdat diewe dit teen hoë bedrae kan herverkoop. Indien jy ‘n vuurwapen besit, sluit dit ongelaai in ‘n versteekte, vasgeboute kluis toe.
Hekmotors word ook gereeld gesteel omdat dit vinnig en met redelike lae risiko gesteel kan word en goeie herverkoopwaarde het. Beskerm jou hekmotor deur dit stewig met ‘n steunraam aan die grond binne jou eiendom te anker. Bring ‘n steunarm aan die bokant van jou hek aan om te voorkom dat dit van die spoor gelig kan word. Bring ook elektriese omheining op grensmure aan om dit moeiliker te maak vir ‘n dief om toegang tot jou eiendom te kry.
Misdaadsindikate stel deesdae baie belang in mense se persoonlike inligting om sodoende jou identiteit te “steel” en toegang tot jou bankrekening of kredietkaarte te kry. Maak seker jou beursie met jou kaarte is altyd buite sig weggesteek en dat jou belangrike dokumente soos testamente, huweliksertifikate, paspoorte en ID-dokumente veilig in ‘n versteekte kluis weggesluit is. Versnipper of skeur rekeningstate en ander dokumente op voordat jy dit weggooi. Indien daar by jou huis ingebreek is, maak seker al jou belangrike dokumente is steeds daar. Steek ook maar jou voertuigsleutels weg, eerder as om dit op ‘n opsigtelike plek aan ‘n hakie te hang.
Inbrekers is meesters om wegsteekplekke uit te snuffel. Hulle sal eerste vir kontant in ‘n kluis of in die veelbesproke “skoendoos onder die bed” soek. As jy egter dink dat jy jou kontant of waardevolle juwele veilig in ‘n leë I&J visverpakking in die vrieskas kan wegsteek, dink weer. Hulle soek selfs daar, sê die Polisie en versekeraars. Diewe is nie almal dom nie en dink net soos jy aan elke moontlik wegsteekplek.
Aangesien hulle gewoonlik onder druk en teen tyd werk, sal hulle hopelik nie al jou bisarre wegsteekplekke kan vind nie. Maak net seker jy steek jou waardevolle artikels nie só goed weg dat jy dit self nooit weer kan vind nie!

***************************************************************************************************************
