Kadoempie, simbool van hoop en lewe!
Een papegaai se stryd om oorlewing. Hy is een van die gelukkiges ...
Kadoempie is ‘n African Grey papegaai wat uit haglikge omstandighede in Limpopo gered is. Ilse Meyer van Laat Waai Papagaai-RANI wat onder andere verwaarloosde en beseerde papegaaie probeer help, het gesê hulle het begin Maart vir Kadoempie na ‘n gesukkel in Pretoria gekry.
Lede van hul facebookgroep het geld ingesamel om Kadoempie so gou as moontlik mediese behandeling te laat kry. Die arme papegaai het kanker gehad en was erg verwaarloos.
Daar is dadelik begin om vir hom gesonde kos in te kry en na ‘n paar dae was hy sterk genoeg om na Onderstepoort te gaan.

Hier het Dr. Dorianne Elliott en Carol Hartzenberg hom dadelik onder hande geneem. Dit was ‘n lang stryd, en hy is deur drie operasies. Met die laaste operasie in April was Dr. Elliott verplig om sy een ogie te verwyder.
Ten spyte van al hierdie terugslae, laat Kadoempie hom nie onderkry nie. Hy het baie gou in almal by die dierehospitaal by Onderstepoort se harte gekruip en het gereeld op Carol se lessenaar rondgeloop of op haar bors gelê.
Soos wat Ilse op ‘n stadium op facebook geskryf het: “Die Papegaai verstom ons!!! Nog nooit het ons so ‘n vegtertjie gesien nie.”

Dan het hy ook ieder en elk van die Laat Waai Papagaai – RANI groep se oor die 6 000 lede se harte gesteel. Sedert hy op 9 Maart sy opwagting in Pretoria gemaak het, is daar bykans daagliks navraag oor hoe dit met hom gaan.
Vir baie het hy ‘n simbool van hoop en lewe geword wat hul motiveer om self ook harder teen kanker te veg en om die lewe met oorgawe aan te gryp. Uiteindelik het die goeie nuus gekom. Kadoempie word ontslaan en aangeneem.
Ilse Meyer sê dit was nie moeilik om te besluit wie die dapper papegaai gaan aanneem nie. Op 19 April het sy dan vir Kadoempie en sy aannemingssertifikaat amptelik aan Carol oorhandig.
Dr. Elliot sal ook altyd in die omtrek wees om na sy gesondheid om te sien. Ilse sê, “Kadoempie sal konstant gemonitor word en weekliks ondersoek word deur dr Elliott. Hy sal ook gereeld moet gaan vir scans om seker te maak hy is steeds kanker vry.”
Die aannemingseremonie is lewendig op die groep se Facebook uitgesaai. Lede het van oral oor vir Kadoempie geskenkies gestuur en gelukwensinge het ingestroom. Hy het later self “gehelp” om die geskenke oop te maak. Kadoempie se storie het ‘n gelukkige einde.
Nie alle papegaaie is so gelukkig nie. Knorpot is twee maande gelede opgetel, maar jarelange se wanvoeding het sy sinusse en longe onomkeerbare skade berokken. Hy is op 23 April 2021 dood. “Hoog vlieg ou grote!”, was Ilse se afskeidsboodskap aan hom op Facebook.
