Local newsNewsNews

Vaal se dansers geniet Flamenco-kursus

Maria Lorca Montoya het 'n twee-dag Flamenco choreografie kursus in Vaalpark aangebied.

VAALPARK. – Die ritmiese stamp van voete op meesleurende Spaanse musiek het op 9 en 10 April vanuit die Hoërskool Vaalpark se saal opgeklink. Tussenin is daar baie gelag en gesels.

Sowat 56 dansers van Compañía Sophia en Georgina’s Dance Studio het bymekaargekom vir ‘n spesiale Flamenco-choreografiekursus. Die twee-dag kursus is op drie vlakke aangebied deur Maria Lorca Montoya van die Montoya Spanish Dance Acadamy in Pretoria.

Carli Olivier sê al die dansers was honger om weer bymekaar te kan wees en saam te kan dans na ‘n jaar van inperkings. “Van ons gaan jaarliks oor om in Spanje verder te gaan leer en ons tegnieke te skaaf, maar hierdie jaar is dit buite die kwessie. Daarom het ons besluit ons sal by mekaar leer.” Carli het juis in Februarie ‘n suksesvolle meesterklas by die Johannesburg Arts Conservatory aangebied.

Carli Olivier het in Februarie ‘n meesterklas in Spaanse dans by die Johannesburg Arts Conservatory aangebied. Foto: Facebook: Johannesburg Arts Conservatory

Volgens Carli is Maria ‘n uitstekende instruktrise wat seker gemaak het die kinders leer nie net nie, maar geniet ook elke oomblik van die klasse. Alhoewel die Flamenco baie spesifieke tegniek vereis, laat die dansvorm tog ruimte vir persoonlike interpretasie. 

“Die dansers het oor die naweek choreografie geleer wat in enige konsert of vertoning gebruik kan word. Hulle het ook meer geleer oor hoe om die Flamenco hul eie te maak,” verduidelik Carli.

Almal wat die kursus voltooi het, is met sertifikate beloon. Die onderskeie dansstudio’s hoop om in die nabye toekoms nog sulke kursusse te kan aanbied.

Carli Olivier van Compañía Sophia, Maria Lorca Montoya van die Montoya Spanish Dance Acadamy en Georgina Jacobs van Georgina’s Dance Studio. Foto’s: Facebook Carli Spanish Dance Productions

Alhoewel hierdie kursus vir die meer gevorderde dansers was, wag daar ook ‘n groot lekkerte vir mense wat belangstel om meer oor Spaanse danse te leer.

Carli bied op 7 Mei ‘n Inleiding tot die Flamenco-dag by The Red Café in Vanderbijlpark aan. “Ek gaan die mense meer vertel oor die dansvorm en hulle leer hoe om van die bewegings te doen en les gee in hoe om kastanjette te speel. Vir hierdie pretdag het jy geen ondervinding of spesiale klere of skoene nodig nie. Getalle is beperk, so mense wat wil meedoen moet gou bespreek,” waarsku Carli.

Sy hoop om later ook ‘n beginnerskursus van ses weke by dieselfde plek aan te bied.

Bespreek vroegtydig vir hierdie besonderse dag.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button