Kry ons die dag ‘n groot yster pampoen (dis ‘n soort pampoen, nie gemaak van yster nie) vir R10 te koop. Ma sê dit het al die potensiaal om ‘n pampoenkoets te word.
“Die goed skil swaar,” brom Pa toe hy die affêre sien. “Jy gee mos nie om nie,” sê Ma. Vroegoggend raak Pa besig in die kombuis. Ek kom op ‘n stadium verby en steek verbaas voor die stoof vas.
Daar staan ‘n pot met gekookte pampoen. Ek wonder of Pa die memo gemis het, want ek kon sweer Ma het gesê ons braai vanaand. Pa sit buite onder die boom. “En die pampoen nou?” vra ek oor die onderdeur.
“Vir pampoenkoekies. Ek wag dat dit koud word,” kry ek antwoord. Ek gaan soek vir Ma. “Jou pa sê ons eet vanaand pampoenkoekies en aartappel fritters saam met die braaivleis,” sê sy en brei verder aan ‘n blou slaapkous.
Laatoggend gaan rus ek ‘n bietjie. “Ek het sop warm gemaak, wil jy ook hê?” Ek maak een oog oop. Ma staan in die kamerdeur. Ek besef ek is honger.
In die kombuis bak Pa nog pampoenkoekies. “Ek eet nou, bak net gou hier klaar. Wil julle proe?” Ek vat een. Dis ok. Ek is mos nie ‘n groot pampoenliefhebber nie.
Ma proe ‘n paar koekies agtermekaar en Her Royal Naughtyness Heidi staan ook nader. Wil eers nie die stukkie hê nie, maar toe Baba Bessie ook die kombuis in trippel, toe eet sy vinnig. Natuurlik moes Bessie en Trompie toe ook proe. So eet die drie toe ‘n hele een by hulself op.
Intussen is pa besig met ‘n mengsel vir sy aartappel fritters. Dis wat hy dit noem. Beter naam sal seker aartappel-plaatkoekie wees. Eers moet ek kaas sny en toe soek hy pietersielie wat ons nie het nie. Ek stel toe maar voor hy vat tiemie.
So met die skottelgoed was is die eerste aartappelkoekies gaar. “Proe,” sê die kok. Ek proe. Dis baie lekker. Ma kom proe ook. “Nee,” sê ek, “teen vanaand het ons elkeen net ‘n stuk wors op die bord, dan is al pa se bykosse opgeproe!”
So van bykosse gepraat, ek wou sampioene-en-uie sosaties maak, maar so is die sosatiestokkies net weg. Nadat ek my knie disnis geloop het teen die klavierstoel, hier rond kan goed op snaakse plekke gebêre word, was ek ook nie meer so oortuig van my plan nie.
Dalk moet ek ‘n paar van Ma se breinaalde leen, behoort goeie stokkies te maak, veral daai dun metaalnaalde wat sy nou al soveel dekades het.
Naskrif uit 2021 – ek het die plan vir die sampioene-en-uie sosaties laat vaar, maar eendag gaan ek dit nog probeer, as ek net kan onthou wat het van daai stokkies geword.
