Mis en koue keer nie hengelaars nie
Die katrolle het behoorlik gesing langs Vaaldam se oewers tydens die 2021 SAVOF Spele wat op 17 en 18 April gehou is.
VAALDAM. – Die 9de Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (SAVOF) Hengelfees, ook bekend as die 2021 SAVOF Spele, het op 17 en 18 April plaasgevind.

Die vispenne is by Biermans, Damplaas, Vaal Rawda, Miemiesdal en Leeuplaas langs die Vaaldam staangemaak. Volgens SAVOF het 70 spanne op dag 1 deelgeneem en 63 spanne op dag 2. Meer as 750 hengelaars was by die dag betrokke. Vanjaar se Hengelfees was aanvanklik beplan vir Januarie, maar moes weens Covid-19 regulasies uitgestel word.

Saterdag was dit baie koud en mistig by die dam. Ten spyte van die weersomstandighede het dit goed gegaan met die hengel. Dag 2 van die kompetisie was heelwat warmer en al die hengelaars het die dag geniet. Jeanette Steyn Nortje van Vanderbijlpark was die spanbestuurder vir die Noord-Oos Mpumalanga (NOM) gestremde span. Die gestremde-afdeling se spanne het by Leeuplaas kragte gemeet.

Jeanette se seun, Norman vang ook vir NOM en het op dag 1 ‘n algehele 2de plek in sy afdeling behaal. Een van sy spanmaats, Christo Steenkamp, het op dag 2 ‘n algehele 3de plek behaal. Die twee se skitter vangste het gehelp dat hul span brons verower het.

Jeanette sê Norman en sy helper, JH Putter, kom al lank saam en verstaan mekaar goed. In die gestremde-afdeling mag die helpers die hengelaars help om byvoorbeeld die vis te gaan skep, maar mag nie die vis uitkatrol nie. Norman en sy spanmaats berei nou voor vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe wat in Oktober by die Bloemhofdam gaan plaasvind.
