Toy Story verjaardag vir Kollegepark Hoof
Prettige verjaardagvieringe by Laerskool Kollegepark.
VANDERBIJLPARK. – Laerskool Kollegepark het hul skoolhoof, Mnr. Coenie Herbst op 21 April 2021 met prettige verjaardagvieringe verras. Coenie verjaar eintlik op 24 April, maar aangesien dit die jaar op ‘n Saterdag geval het, het die skool besluit om sy verjaardag bietjie vroeër te vier.

Almal weet dis nie maklik om iets vir ‘n skoolhoof weg te steek nie, maar die keer was hy werklik verras. Vroegoggend het hy ontbyt saam met die beheerliggaam gaan geniet, min wetende wat by die skool aangaan. Onder leiding van die graad 6’e, is die skool in ‘n Toy Story wonderwêreld verander. Al die leerlinge, en van die onderwysers, het soos hul gunsteling karakters uit die Toy Story flieks aangetrek.

Daar was heelwat Sheriff Woody’s en Cowgirl Jessie’s op die skoolgronde, asook Buzz Lightyears, Little Bo-Peeps, Rex die dinosaur, en Mr. en Mrs. Potato Heads. Hamm die spaarvarkie was ook daar. Twee van die seuns het baie flink gedink. Hulle het hulself met ‘n lang spiraal tou aanmekaar vasgemaak, en met geel lappe om hul skoene, en bruin hemde hulself omtower in Slinky Dog, die speelgoed worshond van Toy Story.

Coenie is by sy aankoms by die skool ingewag deur ‘n ligblou Volkswagen kewer wat hom na die sportvelde geneem het waar die leerlinge en personeel vir hom gewag het. Soos die Volla nader gekom het, is die temaliedjie uit Toy Story, You’ve got a friend in me, gespeel. Die oomblik toe hy uit die Volla klim, het almal vir hom Happy Birthday gesing waarna die hoofleiers hom toegespreek het en hy sy geskenk ontvang het.

Hy het later die dag in ‘n video op die skool se Facebookblad gesê: “Baie dankie vir hierdie besonderse en spesiale dag om my verjaardag te herdenk… Dis voorwaar ‘n groot eer en voorreg om so bederf te word.” Die leerlinge het elkeen ‘n oliebol (donut) ontvang om die dag te vier, terwyl die personeel deur die ouers met iets te ete bederf is. Juanita Louw het in ‘n telefoniese onderhoud gesê die leerlinge het die dag baie geniet en dat die skool probeer om ten minste een maal ‘n kwartaal iets buite die gewone te doen wat vir almal prettig en lekker is.

