News

Jong ma sterf na swaar masjien van trok af val

“Mellissa was ‘n liefdevolle, vriendelike en besonder kunssinnige ‘vrye gees’, wat lief was vir haar mense, koffie, die natuur en die buitelewe," sê haar man.

Eerste publikasie: Vaalweekblad, 28 April 2021

MEYERTON. – Die familie en vriende van mev. Mellissa Foulds de Beer (33) steier nog onder die skok van haar tragiese dood verlede Donderdag, toe ‘n swaar industriële masjien van ‘n trok afgeval en die voorste deel van haar wit Volkswagen Polo verpletter het.

Die fratsongeluk het die oggend omstreeks 09:45 op die M61-roete in die dorp plaasgevind toe sy op pad huis toe was nadat sy haar dogter skool toe geneem het. Midvaal se brand- en nooddienste was gou op die toneel en het gespook om die fyngeboude Mellissa, wat in die wrak vasgekeer was, te bevry.

Sy was in ‘n kritieke toestand en paramedici het dadelik lewensondersteunende behandeling begin toepas. Sy is daarna deur ‘n mediese helikopter na ‘n privaathospitaal vervoer, waar sy ongelukkig aan haar beserings beswyk het.

“Sy was ‘n pragtige, kunstige familiemens wat vir haar man en kind geleef het,” sê ‘n vriendin van die gesin. Mellissa het in Meyerton grootgeword en skoolgegaan. Sy word oorleef deur haar man, Dowayne Foulds, ‘n tienerdogter Meruchka, haar pa, mnr. Philip de Beer en sy vrou Dorinda, en twee broers, Morné en Damian.

“Mellissa was ‘n liefdevolle, vriendelike en besonder kunssinnige ‘vrye gees’, wat lief was vir haar mense, koffie, die natuur en die buitelewe. Sy was ‘n liefdevolle maat vir my en ‘n ware omgeemens. Ek gaan haar en ons geselsies saam met gereelde koppies koffie erg mis,” sê Dowayne, wat nog sukkel om die realiteit van sy vrou se dood te verwerk.

Met haar onverwagse sterfte is dit asof die geskiedenis hom herhaal het. Mellissa se ma, mev. Eureka de Beer, het in 1992 ook in ‘n motorongeluk omgekom toe sy op die DeDeur-pad moes uitswaai vir ‘n voertuig wat voor haar ingedraai het. Mellissa was toe ‘n kleutertjie van sowat 3 jaar oud.

Dit was nie die enigste tragedie wat die De Beers deur die jare getref het nie. Mellissa se grootouers aan vaderskant het ook op ‘n relatief jong ouderdom gesamentlik in ‘n motorongeluk gesterf. “My pa vat dit (Mellissa se dood) bitter swaar omrede dit vir hom ‘n herhaling van die verlede is,” sê haar broer, Morné.

Mellissa se roudiens sou volgens beplanning gister, 1 Mei, gehou word. Die polisie ondersoek die faktore wat tot die ongeluk gelei het.

Wyle Mellissa Foulds de Beer, hier saam met haar man, Dowayne Foulds.

************************************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button