3-Jarige amper ontvoer in Sasolburg, ‘n vrou gearresteer
Seuntjie reg langs sy ma opgetel en weggedra. Kyk die video
SASOLBURG. – ‘n Jong ma van Sasolburg was Vrydagaand, 30 April besig om inkopies by ‘n winkelsentrum in Sasolburg te doen. Haar 3-jarige seuntjie was by haar.
Sy het opgemerk dat drie vroue lyk asof hulle haar dophou. By die betaalpunt, het dieselfde vroue agter haar gestaan. Daar was ook ‘n man met ‘n donker baadjie aan wat die heeltyd in die omgewing was.
Die ma, wat gevra het om anoniem te bly, het heeltyd haar seuntjie dopgehou, maar toe sy ‘n oomblik wegkyk, het een van die vrouens die seuntjie opgetel en met hom weggeloop.
“Ek het haar verbaas aangekyk. Ek het eers gedink sy skeer die gek, maar toe sy doodluiters aanhou loop, het ek agter haar aangehardloop en die kind by haar gevat,” het sy in ‘n telefoniese onderhoud aan Vaalweekblad gesê.
Sy het die vrou gevra wat doen sy en sy het geantwoord: “I’m leaving with your child”. Nadat sekuriteit geroep is, het die vrou gesê dit was net ‘n “grap”. Die mamma sê sy was erg geskok en het haar inkopies betaal en huis toe gegaan.
Die werklikheid van alles het haar eers later getref en Maandagoggend het sy ‘n saak by die polisie gaan maak. Sy het op Dinsdag, 4 Mei gehoor dat die vrou in hegtenis geneem is en tans in aanhouding is.
Die sekuriteitskamera se video van die voorval is deur die mamma se ma op sosiale media versprei. Kyk hier https://youtu.be/gRA8vceVO1E
