Operasie gaan nou begin – Bid asseblief vir ‘n wonderwerk, vra ouma
Tweeling se mamma nou op pad na Emfuleni Mediclinic se teater vir geboorte
VANDERBIJLPARK. – Chavonne, die mamma van die ongebore tweeling, Luka en Liam Joubert, is nou op pad teater toe vir die keisersnee-geboorte van die twee seuntjies. (Dis nou net na 17:00 op Woensdag, 5 Mei 2021).
Hou asseblief die gesin, Pa Rudi, Ma Chavonne en die seuntjies in julle gedagtes en gebede. Vaalweekblad sal vanaand terugvoer gee oor hoe dit met hulle gaan.
Vorige berig:
Vaalweekbladlesers het in Maart vanjaar kennis geneem van die ongebore tweelingseuntjies, Luka en Liam, vir wie ‘n Backabuddy-projek begin is om geld vir hul geboorte in te samel. Vaalweekblad het toe gerapporteer dat Luka gedurende die swangerskap met “Hypoplastic Left Heart syndrome” gediagnoseer is, wat beteken dat net die regterkant van sy hartjie werk.
Danksy Vaalweekbladlesers en ander mense wat goedgunstiglik bygedra het, kan die geboorte nou in ‘n privaathospitaal, Emfuleni Mediclinic, plaasvind, waar daar ‘n intensiewe sorgeenheid is om babatjies soos Luka na die geboorte gemaklik te hou. Sy lewe word egter steeds bedreig deur sy hartprobleem. Slegs ‘n wonderwerk kan hom red, sê hul ouma, mev. Suzette Hall.
“Menslik gesproke kan Luka nie met sy harttoestand oorleef nie. Ons weet in hierdie stadium nie hoe lank ons hom by ons gaan hê nie. Hy kan ‘n uur leef, of dalk ‘n dag, ‘n week of langer,” sê hul ouma.
“Ons glo dat ‘n wonderwerk nog kan gebeur. Vra asseblief vir almal om vir ‘n wonderwerk te bid,” vra sy.


**********************************************************************************************************************
