Local newsNewsNews

Sherlain Holmes kry rol in TV reeks

Sherlain Homes het haar eie besigheid, doen gereeld fotografiese modelwerk en nou is sy ook aktrise.

VEREENIGING. – Sherlain Holmes is gemaklik voor ‘n kameralens as fotografiese model, maar sy begin ook nou aan TV kameras gewoond raak. Die jonge dame het ‘n oudisie geslaag vir ‘n rol in The Estate, ‘n reeks wat op SABC 3 uitgesaai word.

Haar eerste verskyning in die reeks is Dinsdag, 4 Mei in Pretoria opgeneem. “Ek speel ‘n dame wat fiksheidsprodukte in ‘n TV-advertensie verkoop. Die rol sal later uitgebrei word, maar ek het nog nie details nie,” het Sherlain in ‘n telefoniese onderhoud gesê.

Die program behoort begin Junie uitgesaai te word. Die opnames vir The Estate was ‘n nuwe ondervinding aangesien sy dit voor ‘n digitale groen skerm moes doen. “Dit was baie lekker gewees, nou wag ons maar net om dit te sien”, het sy Woensdagoggend laat weet.

Sy was hierdie jaar ook al ‘n agtergrondkarakter op Isono en Binnelanders. “Ek was een van die mense wat in die agtergrond gestaan of geloop het. Op ‘n stadium het ek gesit en boek lees,” vertel sy oor haar ondervinding by Binnelanders.

Dan het sy ook ‘n spysenier gespeel in die Suid-Afrikaanse weergawe van Ugly Betty, uBettina Wethu wat op SABC 1 vertoon word. Dis vir haar lekker om skouers te skuur met van Suid-Afrika se bekende akteurs en aktrises.

Sy sê almal is baie ondersteunend en sy vind die hele bedryf baie interessant. Sherlain sê sy het sowat twee jaar gelede dramaklasse as deel van haar modelwerk bygewoon en sy geniet dit om wat sy daar geleer het, nou toe te pas.

Alhoewel sy die werk voor die kameras geniet, beskou sy dit alles as deel van die leerskool ter voorbereiding om haar droom te bereik. Sherlain is verlede jaar aangewys as die Vaal se Queen of Social Media tydens die Miss Vaal Pageant.

Haar grootste droom is om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word. Sy beplan om in 2022 aan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie deel te neem.  “Ek gee nie op nie en sal aanhou probeer totdat ek my drome verwesenlik het,” verklaar sy beslis.

“My boodskap vir kinders en tieners is dat hulle in hulself moet glo. Besef jy is goed genoeg. Waardevol. Volg jou drome. Droom groot. Moenie dat iemand jou vertel jy droom te groot nie. Mense gaan jou judge, maar staan sterk.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button