Gandalf en Tinkerbell is nou trotse ambassadeurs
Gandalf en Tinkerbell kom al 'n lang pad saam, maar die twee bejaardes het so pas 'n nuwe "werk" aanvaar as ambassadeurs van die Vaal Pageant.
VANDERBIJLPARK. – Ontmoet Gandalf en Tinkerbell. Die twee St. Bernards is deel van die viervoet familie by Vaal Pets. Die duo is so pas deur Vaal Pageant ingelyf as ambassadeurs.
Erika Breytenbach sê hulle het as Vaal Pageant Organiseerders besluit om hande te vat met verskeie instansies en organisasies om ‘n groter impak op die gemeenskap te maak.
Een van hierdie instansies is Vaal Pets. “Ons beoog om sommer ’n hele paar projekte hierdie jaar by Vaal Pets aan te pak, en ons is geëerd om te spog met die mooiste Vaal Pageant Ambassadeurs,” het Erika laat weet.

Danielle van Rooyen, eienaar van Vaal Pets, sê Gandalf en Tinkerbell is ongeveer 11/12 jaar oud. Hulle is oorspronklik van die Muldersdrift omgewing, maar hul eienaar moes al haar honde sowat twee jaar gelede opgee weens finansiële probleme.
“Die vrou het my gebel en gevra of ek die honde kan inneem of haar kan help om hulle uit te sit. Natuurlik kon ek hulle nie laat uitsit nie. Ons het dadelik ‘n groot kamp met hokke gebou om plek te maak vir al haar honde. Uiteindelik het sy 12 honde gebring, nadat van haar honde deur familie en vriende aangeneem is,” vertel Danielle.
Gandalf en Tinkerbell is albei baie goed geaard en gesond, maar Danielle sê mense verkies om nie sulke ou honde aan te neem nie. Die twee is baie gelukkig by Vaal Pets en sien uit na die amptelike geleenthede waar hulle, hul mooi pienk en blou ambassadeursbande met trots kan dra.
