News

Terugvoer oor pasgebore tweeling, Luka en Liam Joubert

Dit gaan in dié stadium bo verwagting goed met Luka

VANDERBIJLPARK. – Dit gaan in die omstandighede goed met Luka en Liam Joubert, die tweeling-seuntjies wat gisteraand met ‘n keisersnee in Emfuleni Mediclinic in die lewe gebring is.

Daar heers die afgelope maande groot belangstelling in die seuntjies se geboorte nadat Luka op 18 weke in die swangerskap met ‘n aangebore hartdefek gediagnoseer is. ‘n Skarebefondsing is toe begin  om die gesin met die verwagte mediese onkoste te help.

Ongelukkig kon genoeg geld nie betyds ingesamel word om ‘n hartoperasie vir klein Luka moontlik te maak nie, maar danksy skenkings kon die tweeling wel in Emfuleni Mediclinic gebore word, waar daar ‘n hoëgehalte pediatriese intensiewe sorgeenheid is om Luka die nodige sorg te gee wat hy direk na die geboorte benodig.

Menslik gesproke sal hy nie met die hartprobleem kan bly leef nie, maar sy ouma, Suzette Hall en sy ouers, Chavonne en Rudi Joubert, het die afgelope dae ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om te help bid vir ‘n wonderwerk dat Luka genees word, of lank genoeg sal bly leef dat hy dalk mettertyd die lewensnoodsaaklike operasie kan ondergaan indien genoeg geld beskikbaar raak.

“Dit gaan op die oomblik bo verwagting goed met Luka. Die pediater het vanoggend die seuntjies gesien en kon nie glo hoe goed Luka tans doen nie. Ek glo God het Luka reeds aangeraak,” sê die ouma.

Verdere toetse word nou op Luka se hartjie uitgevoer. Vaalweekblad sal lesers op hoogte hou van sy toestand. Die gesin bedank nogmaals Vaalweekblad-lesers vir hul gebede en boodskappe van ondersteuning.

Die Joubert-tweeling direk na hul geboorte in Emfuleni Mediclinic gisternamiddag, 5 Mei 2021. Dit gaan ook goed met hul mamma, Chavonne. Luka is die baba links en Liam die enetjie wat aan sy vingertjie suig.

******************************************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button