Oud-sportskrywer van Vaalweekblad, Harry Basson (92) oorlede
Vaalweekblad onthou Oom Harry vir sy deeglike, lekkerlees-verslae. Ons innige simpatie aan sy familie en vriende.

VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende inwoner van die dorp, mnr. Hennie (ook bekend as Harry) Basson, is verlede week in Cormed-hospitaal oorlede.Volgens sy dogter, Anita Erasmus, was hy nog baie gesond en aktief tot in Desember verlede jaar, toe hy met kanker gediagnoseer is.
Hy het die afgelope tyd vinnig agteruitgegaan en het op Donderdag, 29 April, gesterf. Mnr. Basson het sedert 1952 in Vanderbijlpark gewoon en het met sy aftrede 35 jaar diens by die destydse Yskor, eers in Pretoria en later in Vanderbijlpark, gehad. Dié oud-Suidwester het aan die bekende Paarl Boys High gematrikuleer en was sy lewe lank ‘n groot WP-ondersteuner.
Hy het van jongs af in sport belanggestel en het in sy jonger jare aan atletiek en rugby deelgeneem. In sy latere lewe het hy etlike jare in die bestuur van die Yskor-rugbyklub in Vanderbijlpark gedien. Mnr. Basson het ook ‘n besondere verbintenis met Vaalweekblad gehad.
Hy het in die 1970’s en 80’s vir sowat 10 jaar lank vir Vaalweekblad sportberigte op ‘n vryskutbasis geskryf. Redaksielede wat hom in daardie jare leer ken het, sal hom altyd onthou vir sy deeglike en lekkerlees-sportverslae. Hy was ook bekend vir sy versameling klippe, edelstene en skulpe, ‘n belangstelling wat hy baie geniet het. Hy was 66 jaar getroud met An Basson, wat in 2015 oorlede is. Hy het die afgelope jare in Herfsoord in Vanderbijlpark gewoon.
Hy word buiten sy dogter Anita en haar man, Pieter Erasmus, ook oorleef deur sy broer, dr. Pieter Basson, twee kleinseuns en hul vroue, Francois en Leandra, en Heinrich en Maritza, sowel as twee agterkleindogters, Lieshke en Kahlo. Wyle mnr. Basson se gedenkdiens is Dinsdag, 4 Mei by die Siësta-versorgingsoord se kapél in Vanderbijlpark gehou.
Foto: Wyle mnr. Harry Basson.
*******************************************************************************************************************
