NewsBreaking News

Brekende nuus: ‘God het ons Luka kom haal’

Een van die Joubert-tweeling sterf 4 dae na geboorte weens hartprobleem

 

VANDERBIJLPARK. – Hartseer nuus wat pas ontvang is, is dat klein Luka Joubert vandag (Sondag 9 Mei 2021), vier dae na sy geboorte, gesterf het.
Vaalweekblad het sedert Woensdag berig oor die beplande keisersnee van die tweeling, wat toe Donderdag in Emfuleni Mediclinic plaasgevind het.

Duisende lesers het die nuus oor die geboorte met groot belangstelling op Vaalweekblad se aanlynpublikasies gevolg omdat almal teen dié tyd geweet het van die ongebore seuntjies, Liam en Luka Joubert – van wie laasgenoemde reeds voor die geboorte met ‘n lewensbedreigende hartdefek gediagnoseer is.
Die seuntjies se ouers, Rudie en Chavonne, en ouma Suzette Hall het deurgaans gevra vir gebede vir Luka omdat sy oorlewingskanse van die begin af min was en net ‘n wonderwerk hom sou kon red.

Pa Rudi Joubert het vanoggend vroeg dié WhatsApp-boodskap gestuur:
Hi julle, Rudi hier, die pa van Luka. Ek was vanoggend by Luka en dit gaan nie baie goed nie. Ek wil asb vra dat as dit moontlik is, dat elke persoon wat kan, by die hospitaal sal wees om 10:30 en as dit nie moontlik is nie, dat waar ookal jy is, jy asb om 10:30 tot gebed sal kom vir Luka. En die wat dit kan maak tot by die hospitaal, dat julle tot gebed sal kom in die parkeer area. Daar waar twee of meer mense tot gebed kom is die Heilige Gees ook teenwoordig. Dit is by Emfuleni Medi Clinic in Vanderbijlpark. Dankie baie.

Hoewel die gesin tot aan die einde bly hoop het op ‘n wonderwerk, het Luka nie oorleef nie. Ouma Suzette het ‘n rukkie gelede dié boodskap aan Vaalweekblad gestuur: “God het ons Luka kom haal.” Hy is om 11:20 vanoggend oorlede.

Vaalweekblad se innige simpatie aan Rudi en Chavonne sowel as aan die grootouers en ander familielede in dié hartseer tyd.

Volledige berig in Vaalweekblad van 12 Mei.

Klein Luka Joubert wat met ‘n hartdefek gebore is, is vanoggend oorlede.

********************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button