Pioneer inwoners geniet Wilde Weste Spitbraai
1 Mei was vir die inwoners van die Pioneer House 'n dag van baie pret, groot kuier en lekker eet.
VANDERBIJLPARK. – Saterdag, 1 Mei is die inwoners van die Pioneer House bederf met ‘n spitbraai. Thys Venter het georganiseer en Sonja van Rhyn en die res van die span het die eetsaal omskep in ‘n toneel so reg uit die ou Wilde Weste dae.

Sonja sê sy het lank voor die tyd begin om versierings vir die groot geleentheid te maak uit akkers en leë bottels wat baadjies gekry het. Sodoende is die kostes beperk en kon die geld (uit skenkings en ook gespaar uit die Dit en Dat winkel op die perseel) vir lekker kos gebruik word.
Op die spyskaart was skaap gebraai op die spit, lewer in netvet, gebraaide aartappels en slaaie. Vir die soet tande was daar kolwyntjies en malvapoeding vir nagereg.

‘n Fotohoek, kompleet met ‘n baal strooi, ‘n ou saag en ‘n latern het vir groot pret gesorg. Henk Haverkamp het die foto’s geneem. Almal het die dag baie geniet.
Sonja het laat weet, dat die inwoners eers bietjie stillerig was, maar nadat sy ‘n besem gegryp het, dit tot haar perd verklaar het en so slag deur die saal daarmee gedans het, het almal lekker gelag en begin saam kuier.

Jenny Burden het op die Pioneer House se facebook blad gesê: “Dankie vir alles, was awesome. Die saal het so so mooi gelyk, die kos was uit die boonste rak en almal het pragtig gelyk.”
Vir meer foto’s besoek gerus Pioneer House se facebook blad.
