News

Geliefde Juffrou Marlene se plek by Oospark is leeg

"Sy was ‘n sagte, lojale mens wat net die goed in ander kon sien"

VANDERBIJLPARK. – Die Laerskool Oospark se leerlinge, ouers en onderwysers rou saam met die familie oor ‘n geliefde personeellid, mev. Marlene de Beer, wat onlangs die soveelste slagoffer van Covid-19 in die Vaaldriehoek geword het.

Mev. De Beer was vir baie jare aktief by Oospark se werksaamhede betrokke omdat al drie haar kinders hier skoolgegaan het. In later jare het sy in ‘n private hoedanigheid rekenaarklasse by die skool begin aanbied. Sy het sedert Oktober 2013 ‘n beheerliggaampos gehad om rekenaarklasse by die skool aan te bied.

Sy het vroeg verlede maand siek geword en is op 11 April in die Cormed-hospitaal opgeneem.

Nadat sy positief vir Covid-19 getoets het, is sy dadelik na Mediclinic Emfuleni oorgeplaas, waar sy op 20 April weens Covid-verwante komplikasies gesterf het.

“Ons almal onthou Marlene met deernis. Sy was ‘n sagte, lojale mens wat net die goed in ander kon sien. Altyd geduldig, hulpvaardig en nederig,” sê haar kollega en vriendin, mev. Marietjie Nurden.

“Dit lyk of hierdie nuwe variant van Covid soos ‘n dief in die nag kom en voor jy weet, het hy jou in ‘n doodsgreep. Mense moet hulle tog self baie mooi oppas. Hierdie virus is beslis nie ‘n mite nie en tref beslis nie onderskeid tussen klas of kleur nie,” sê sy.

Wyle mev. De Beer se skoondogter, Mare-Li, sê sy was ‘n moederlike figuur vir soveel kinders en jongmense. “Haar deur was altyd oop en jy was altyd welkom, maak nie saak watter tyd van die dag of nag nie. Sy het absoluut vir haar kinders en kleinkinders geleef.”

‘n Huldigingsdiens vir mev. De Beer is verlede Dinsdag, 4 Mei, uit AGS Dinamika gehou. Sy word oorleef deur haar pa, haar man, Kallie, drie kinders, Werner, Kevin en Ciska, haar skoonkinders Frik en Mare-Li, en twee kleinkinders, Warrick en Mason.

 

Wyle mev. Marlene de Beer.

 

 

 

 

***********************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button