Local newsNewsNews

Shakespear drink tee saam met Liewe Heksie, want Afrikaans is 96!

Terwyl Afrikaans in Mei verjaar, het ek besluit om bietjie oor my boeke te storie.

Op 8 Mei 1925 is Afrikaans amptelik as ‘n taal erken. Met dié verjaardag in gedagte, het ek besluit om oor my boeke te storie.

Op my boekrak kuier ‘n groot verskeidenheid van skrywers en stories saam. Gepak in ‘n volgorde wat net vir my sin maak.

Ek het die afgelope nege jaar drie keer getrek en elke keer was die boeke eerste gepak. Niemand mag gehelp het om dit in of uit te pak nie.

Alhoewel, toe ek die slag van die een kant van Graskop na die ander kant getrek het, het ek “hulp” gehad. My huiswerker se seuntjie was 11 jaar oud. Hy wou graag help, toe pak hy solank boeke uit.

Kom ek by die boekrak, toe drink Shakespeare tee saam met Liewe Heksie, Trompie het verdwaal in die Tweede Wêreldoorlog en Jane Austin verstom haar aan die vampiere van Twilight. Sekere boeke word jaarliks gelees.

So kan ek my steeds verkneukel in die Maasdorpreeks en Stories van Rivierplaas. As ek die dag siek is, dan bring Daddy-Long-Legs troos en om een of ander rede lees Shakespeare se komedies vir my lekker as ek in ‘n vliegtuig is.

Elke boek roep ‘n herinnering op … Daar is die Trompie, Saartjie en Kobie van Maasdorp weergawes van my kinderdae, die heruitgawes van hierdie eeu.

PH Nortjé se stories het ek elke middag na skool vir my tannie Kittie voorgelees. My Afrikaanse Shakespeare se rugkant het bytmerke, met komplimente van ‘n vorige papegaai van my ma. Maak nie saak nie, Kittie het nog die boek vir my gekoop en my so aan Shakespeare voorgestel.

Daar is die jeugverhale van ander lande uit vorige eeue. Ek is seker Polyanna, Heidi, Anne of Green Gables en Laura en haar sussies van Little House on the Prairie hou gereeld partytjie saam met Mary Poppins as ek nie hier is nie.

Hoe anders verklaar mens die stofstreep oor Heidi se neus en Anne se geskeurde voorblad? Verder aan rook die digters van ouds pyp, terwyl hul in Ou Engels en Afrikaans die waarde van die digkuns bespreek. Die geskiedenisboeke staan ‘n rak vol waar generaals en konings van lank geleë weer van vooraf oor stukkies aarde en goud baklei.

My taalboeke is die bondgenote op my lewensreis. Die span waarop ek vertrou. My HAT natuurlik my beste wapen. Elke boek is getrou daar as ek dit benodig.

Saam het ons al vele woord-en-taal-veldslae gewen, in Engels en in Afrikaans. Van hulle het al uitgetree, maar soms het selfs die veterane nog goeie raad.

Party boeke is voos gelees, ander net een keer, maar vir elkeen is daar ‘n plek. Saam vorm hulle my kleurryke wêreld van motivering, inspirasie en ontvlugting. Sonder my boeke en stories sou ek nie vandag joernalis gewees het nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button