Local newsNewsNews

Muurskilder lewe vir kuns in alle vorme

“Ek het my talent uit swaarkry ontwikkel. Die lewe het my sterk gemaak.” - Fanie Jacobs

VANDERBIJLPARK. – Fanie Jacobs (28) is ‘n muurskilder, kunstenaar en entrepreneur wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Hy is ook topfiks, want hy verkies om fiets te ry, maak nie saak watter kant van die Vaalrivier hy komissiewerk doen nie.

Hy teken al sedert hy kan onthou en sê dat veral mense se oë hom van kleinsaf gefassineer het. Vandag geniet hy dit steeds om gesigte te teken. In 2016 het hy sy eerste muurskildery vir ‘n besigheid gedoen en vandaar het die werk begin instroom.

Fanie verf in sy kamer met die buitenste ruim tonele teen die muur. Foto: Verskaf

Fanie het al deur die land getoer om muurskilderye in restaurante en mense se huise te skilder. Van sy werk kan tot so ver as Kaapstad, Mosselbaai en Hartenbos gesien word.

Fanie kry groot muurskilderye binne ‘n paar dae klaar. “Wanneer ek begin, vloei die kreatiwiteit en dan kom alles sommer vanself,” beduie hy. Hy het onlangs agt muurpanele (vier binne en vier buite) in 18 dae in Sasolburg voltooi.

Hy het sy slaapkamer in ‘n toneel uit die buitenste ruim omskep. “My pa wil nie hê ek moet die res van die huis ook verf nie,” lag hy. Fanie en sy pa, Fanie sr. is ‘n gedugte span wat lekker saam woon en werk. Wanneer hy nie komissiewerk doen nie, help hy sy pa met konstruksiewerk.

Fanie glo nie aan stilsit nie. Sy hope kreatiewe energie vind uitlating in die bou van horlosies en kunstige skaakstelle. “Ek geniet dit om skaak te speel en om interessante skaakstelle te bou uit enige materiaal, van hout tot by ou motor onderdele,” beduie hy.

Sy oë vonkel terwyl hy praat van sy passie vir kuns in enige styl en vorm. Formele opleiding het hy nooit gehad nie. Alles is ingebore talent. “My ma was ‘n kunstenaar, maar ek het haar nooit geken nie. Ek verf en teken, want dit is al wat ek nog altyd wou doen. Ek moes dit ook doen om aan die lewe te bly,” sê hy.

“Ek het my talent uit swaarkry ontwikkel. Die lewe het my sterk gemaak.” Die jong kunstenaar streef na dit wat eg is in die lewe en dit is ook wat hy deur sy kuns wil oordra. “Alles wat ek self kan doen, doen ek,” beduie hy toe ons uitstap.

Hy is besig om die kitaar in ‘n kunswerk te omskep. Foto: Verskaf

Buite blink sy fiets in die middagson. Die fiets het hy ook self gebou. “Ek stuur vir jou vanaand ‘n foto van ‘n kitaar waarmee ek besig is,” groet hy. Inderdaad, hy hou daarvan om kunswerke op kitare ook aan te bring wanneer hy die tyd kry tussen al die ander kreatiewe aktiwiteite deur.

Fanie se werk en kontakbesonderhede kan op sy Facebookblad, Art by Fanie Jacobs, gevind word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button