Local newsNewsNews

Vonkfiksie – Die ou pop

Het sy gedroom? Of het sy dit regtig gehoor? Die huis is nou stil. Dan hoor sy dit weer.

Karlien skrik wakker. Sy hoor haar hart in haar ore klop. Het sy gedroom? Of het sy dit regtig gehoor? Die huis is nou stil. Dan hoor sy dit weer.

“Wolf, wolf hoe laat is dit?” Gevolg deur ‘n laggie. ‘n Klein dogtertjie se stem. Dis tog onmoontlik. Sy is alleen in die huis.

“Het ek nou wraggies die TV aan gelos?” praat sy met haarself. Die teëls is koud onder haar kaal voete. Die sitkamer is donker. Die TV is af.

“Koljander, koljander so deur die bos. My ma en pa maak lekker kos”, hoor sy skielik weer die stem net toe sy by die spaarkamer kom.

Iemand. ‘n Kind sing in die kamer. Dit kan nie wees nie. Sy bly alleen.

Die liedjie gaan voort. Die stem klink vrolik. Karlien is skielik kwaad. Wie gee die kind die reg om in haar huis te kom? Om haar in die middel van die nag wakker te sing?

Sy stoot die deur vinnig oop en sit die lig aan. Daar is niemand in die kamer nie. Kasdeure is toe. Haar werkstafel deurmekaar gestapel met verf, wol en materiaal.

Dan sien sy weer die pop op die bed. “’n Regte spook-pop”, het sy vanmiddag nog gelag toe haar vriendin die pop gebring het.

“Is ‘n baie ou pop”, het Debbie gesê. “Ek het haar in een van die ou store gekry. Gedink jy sal haar weer kan mooi maak.”

“Sal kyk wat ek kan doen” het Karlien geantwoord. “Hoe vorder operasie skoonmaak?”

Debbie en haar man het ‘n ou plaas op ‘n vendusie gekoop en is nou stelselmatig besig om die plek leefbaar te kry. “Die huis is reg. Ons is besig met die laaste stoorkamers”, het haar vriendin geantwoord en oor ‘n koppie tee verder uitgebrei oor alles wat hulle nog wil doen.

Later het sy die pop van nader beskou. Behalwe vir die gesiggie wat onnatuurlik wit is, was die res van die lyfie in ‘n goeie kondisie. Net baie vuil in haar verbleikte rok en kappie.

“Ek sal môre kyk wat ek met jou kan doen”, het sy gesê voordat sy die pop op die bed neergesit het.

“Ai Karlien, nou staan jy weer met jouself en storie in die middel van die nag. Loop slaap”. Sy draai om. Sit weer die lig af.

“Siembamba mamma se kindjie”, hoor sy skielik weer die stem agter haar. Sy draai verskrik om en sit weer die lig aan.

Op die bed sit ‘n dogtertjie met die pop op haar skoot. “Wie is jy? Wat maak jy hier?”

Die kind sus die pop nog so paar keer en kyk dan rustig op. Haar oë is ‘n helder groen. “My naam is Lientjie-Lina”.

“Lientjie-Lina? Dit kan nie wees nie”, fluister Karlien. Dit voel of die wêreld om haar draai. “Lientjie-Lina is wat Ouma Grieta my altyd genoem het.”

“My Ouma Grieta noem my so”, lag die kind weer. “Sy het gesê dis tyd dat jy huis toe kom.”

Sy hou die pop na Karlien toe uit. “Onthou jy, Oupa Gert het haar nog vir ons gegee. Haar naam is Ragie.”

Karlien kyk na die kind. Kyk na die pop. Die pop. Sy onthou.

Ragie. Haar Ragie wat eendag net weg was. Saam met Oupa Gert en Ouma Grieta en haar ma en pa. Weg. Sy was so klein toe sy in die kinderhuis beland het.

Sy het vergeet. Maar, nou onthou sy. Alles. Sy steek haar hande uit na die pop. Druk dit styf teen haar vas.

Lientjie-Lina vat Karlien se hand. “Kom, hulle wag vir ons.”

Sy vat die kind se hand en loop by die kamer uit.

Die gang is weg, daar is ‘n groot tuin. In die hoek staan ‘n tafel gedek met eetgoed. Dan sien sy hulle … haar mense. Sy hardloop in haar ma se arms in. Sy is uiteindelik weer gelukkig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button