Dorp se eens spoggerige swembad nou net ‘n seeroog
Die destydse skitterblink water en lowergroen grasperke was jare gelede ‘n geliefkoosde kuierplek vir jonk en oud
VANDERBIJLPARK. – Die openbare swembad in SE2, wat op ‘n tyd gewemel het van daaglikse besoekers en ‘n plek was waar galas gereeld gehou is, waar waterpolo en waterhokkie gespeel en duiklesse aangebied is, is nou net ‘n groen afskynsel van sy eens skitterende voorkoms.
Hoewel die gras nog groen en redelik netjies versorg is, is die water in die Olimpiese-grootte swembad selfs groener. Dit is duidelik dat die swembad in sy vorige lewe laas chloor en suur gesien het en beslis nooit meer met skoon water opgevul word nie.
Foto’s van die verwaarloosde swembad wat die afgelope weke op Facebook gedeel is, het menige leser teruggeneem na hul kinderjare, toe die swembad in November 1979 in gebruik geneem is. Die destydse skitterblink water en lowergroen grasperke was ‘n geliefkoosde kuierplek vir jonk en oud.
Giovanni Petersen van Reenen sê hy onthou die dae toe hy ‘n gala hier gewen het en op familiedae van die hoë duikplanke afgespring het.
“Eers het die skaatsbaan gesluit, toe Vereeniging se swembaddens en nou lyk dit net so sleg in Vanderbijlpark. Dit is hartseer om te sien dat daar so min aktiwiteite vir die jeug oorgebly het. Daar is nou net pubs en boozing,” sê hy.
Marco Mourão onthou ook hoe hy en sy maats as kinders swemlesse hier geneem het. “Ons het so baie pret gehad. Hoe mis ek daardie dae,” sê hy.
Lloyd Engelbrecht sê hy het in sy kinderjare in 1989 hier begin swem en onthou nog hoe lekker hulle op die springmatte gespeel het. “Ons het destyds 50c betaal om jouself die hele dag te geniet. Kan ‘n privaatmaatskappy dit nie dalk oorneem nie? Al moet mens R20 of R30 betaal om te kom swem,” wonder hy.
Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het jare gelede al begin kla dat die chemikalieë en onderhoud van die swembad onbekostigbaar begin raak. Die Covid-19 inperking het, wat die swembad aanbetref, moontlik as ‘n bedekte seën vir ELM gekom omdat die onderhoud agterweë kon bly terwyl niemand gedurende die streng inperkingsvlakke toegelaat is om die swembad te besoek nie. Met die wintertyd wat nou aanbreek en die swembad gesluit word, sal dit na verwagting tot September duur voordat daar eers weer aandag aan die water gegee gaan word.
* Die foto’s is onlangs geneem deur Wispelturig, ‘n gemeenskaps- en kultuurwebwerf, tydens ‘n besoek aan Vanderbijlpark.




************************************************************************************************************************
