News

Hamilton draf weer vir Suid-Afrika

Vereeniging se Robert Hamilton oefen soggens al van 04:00 af ter voorbereiding van die Backyard Ultra-wêreldspankampioenskap wat later vandeesmaand plaasvind.

VEREENIGING – Ure se eensame oefening in die donker lê vir Robert Hamilton voor nadat hy gekies is om Suid-Afrika in die Backyard Ultra-wêreldspankampioenskap te verteenwoordig.

Die 45-jarige Vereenigingse sakeman is een van die 15 voorste uithouatlete wat op 17 Oktober vir die land sal uitdraf wanneer nasionale spanne wêreldwyd gelyktydig op eie bodem meeding.

“Ek is baie bly om die span te haal. Dit is ’n eer om jou land en dorp te verteenwoordig,” sê Hamilton, wat die konstruksiemaatskappy MRG besit.

Robert Hamilton. Foto: Verskaf

Hy het sy plek in die span met ’n indrukwekkende vertoning by die Potch Big Backyard Ultra bespreek, waar hy 38 rondtes en sowat 254 km voltooi het. Die 15 atlete wat die beste afstande tydens kwalifiserende byeenkomste afgelê het, is vir die nasionale span gekies.

In ’n Backyard Ultra moet deelnemers elke uur ’n rondte van 6,706 km voltooi. Hulle hou daarmee vol totdat net een atleet oorbly. Elke voltooide rondte tel ook as ’n punt tot die betrokke land se spantotaal.

Robert Hamilton saam met die Suid-Afrikaanse Backyard Ultra-span. Foto: Verskaf

Hamilton het weens omstandighede slegs ses weke om hom vir die kampioenskap voor te berei. Hy oefen elke oggend van 04:00 af in en om Vereeniging en probeer die meeste middae ook ’n tweede sessie inwerk.

Sy harde werk het reeds vrugte afgewerp. Hamilton het op 26 September die solo-afdeling van die plaaslike Lite2Nite 12-uur-baanwedloop by Hoërskool Driehoek gewen.

Hy het 113 rondtes in 11:59:39 voltooi en eerste algeheel, in sy kategorie én onder die mans geëindig.

Suid-Afrikaanse kleure word nie net op wedloopdag verdien nie, maar in die eensame ure wanneer ander mense nog slaap.

Volgens hom is die voorbereiding dikwels moeiliker as die wedloop self.

“Dit beteken baie ure alleen, vroeg soggens en laat saans. Jy moet ook probeer gesond bly wanneer almal rondom jou siek raak.”

Robert Hamilton. Foto: Verskaf

Hamilton stel nie vir homself ’n spesifieke aantal rondtes as teiken nie, aangesien baie van die omstandighede op die dag sal afhang.

Tydens die wedloop verkies hy gewone kos bo energiejels en -stafies. Slaap is feitlik buite die kwessie omdat daar ná elke rondte skaars genoeg tyd is om asem te skep, te eet en te drink.

Hamilton hardloop reeds sowat 13 jaar. Sy vrou, Rozanne, is sy grootste ondersteuner.

“Sy is baie kwaai, so ek hardloop maar,” skerts hy.

Robert Hamilton. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button