Drie-Angel-Hoek Klub wil grotes kap
HS Driehoek spog met hul eie hengelklub. Kluborganiseerder Riaan Bezuidenhout sê almal sien uit na volgende jaar se skoleliga.
ANDERBIJLPARK – Hoërskool Driehoek het vir die eerste keer in hul geskiedenis ‘n amptelike hengelklub. Die Drie-Angel-Hoek hengelspan het hierdie jaar tot stand gekom.
Hooforganiseerder en onderwyser by die skool, Riaan Bezuidenhout sê dit het alles begin toe hy een van sy hengelbaadjies by die skool gedra het.
“Daarna het die jong hengelaars my gevra om met ‘n hengelklub by die skool te begin,” vertel Riaan wat self ‘n ywerige hengelaar is en al heelwat artikels vir Die Oewerhengelaar geskryf het.
Hy is ook voorsitter van die Gauteng Hengel Skoleliga en sê dat die Hoekies volgende jaar drie spanne gaan gaan inskryf. Intussen is hy besig om Viskunde 2 te organiseer. Dis ‘n tienerontwikkelingskliniek.

Die eerste hiervan het bestaan uit ‘n deurnaghengel waar skoolgaande hengelaars saam met hul pa’s en ouer broers kon kamp en meer oor die fyner tegniek van hengel kon leer.
Die leerders het die hengelkompetisie baie geniet en daar is pryse uitgegee vir alles van die grootste spesie vis en swaarste sak, tot die kleinste vissie wat gevang is.
Die tweede Viskunde sal by die RPA klubgronde langs Vaaldam plaasvind en word vir einde November beplan.

Riaan sê die Drie-Angel-Hoek hengelaars is baie opgewonde omdat hulle die Legends Pro-Angling Klub se juniors by die Vaaldam gaan aanvat in ‘n standaard hengelkompetisie. Die groot dag vind op 18 Oktober plaas.
Vir meer inligting oor die Gauteng Hengel se skoleliga of die Drie-Angel-Hoek span, stuur gerus ‘n e-pos na gautenghengelskoleliga@gmail.com of WhatsApp Riaan by 082 950 3725.
