Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – “Luka sal altyd ons seuntjie bly. Ons sal hom altyd liefhê, al was hy net vir ‘n paar dae vir ons geleen.”
Dit was verlede Sondag die boodskap van Chavonne en Rudi Joubert, ouers van die tweeling-seuntjies Liam en Luka, wat op 5 Mei in Emfuleni Mediclinic gebore is. Klein Luka, wat ‘n aangebore hartdefek gehad het, is vier dae na die geboorte oorlede.
Vaalweekbladlesers het die afgelope maande die Joubert-tweeling se verhaal begin volg nadat Rudi en Chavonne op 18 weke in die swangerskap die hartseer nuus by hul ginekoloog, dr. L.L. du Toit, gekry het dat een van hul ongebore seuntjies aan Hypoplastic Left Heart-sindroom ly en dat sy oorlewingskanse skraal sou wees. Hulle het reeds voor sy geboorte besluit om dié seuntjie Luka te noem en sy gesonde tweelingboetie, Liam.
Medici het Rudi en Chavonne vooraf daarop voorberei dat Luka se oorlewingskanse klein was as hy nie direk na sy geboorte ‘n reeks ingrypende hartoperasies en later ‘n hartoorplanting sou kry nie. Dit sou egter nie sy oorlewingskanse waarborg nie, maar hom moontlik ‘n groter kans op oorlewing gee.
Na weke van onsekerheid en wroeging het die egpaar op 24 weke van die swangerskap besluit dat hulle Luka nie deur soveel pyn wou laat gaan nie, veral omdat sukses nie gewaarborg kon word nie en hulle sy lyding nie onnodig wou uitrek nie.
“Ons het dit van daar af in die Here se hande gelaat en geglo dat Luka deur ‘n wonderwerk genees kon word as dit Sy wil was,” sê Chavonne.
Die tweeling is toe Donderdag, 5 Mei, met ‘n keisersnee in die wêreld gebring. Nadat Vaalweekblad die nuus op Facebook aangekondig het, het die berigte meer as 40 000 lesers bereik. Duisende Facebook-gebruikers het saam met Rudi en Chavonne gejuig omdat Luka die geboorte oorleef het. Die gesin het gevra dat almal steeds moes bid vir ‘n wonderwerk en dat hy sou bly leef.
In die eerste dae na die tweeling se geboorte was Luka se toestand bo verwagting goed maar hy het mettertyd begin verswak. Teen vroeg Sondagoggend, 9 Mei, het Rudi ‘n WhatsApp-boodskap uitgestuur om te sê dit gaan nie goed met Luka nie. Hy het inwoners van Vanderbijlpark gevra dat almal vir wie dit moontlik was, die oggend by Emfuleni Mediclinic se parkeerterrein bymekaar moes kom om vir hul seuntjie te bid. Luka het egter om 11:15 gesterf.
Chavonne en Liam is reeds uit die hospitaal ontslaan. Met Vaalweekblad se besoek Sondag aan Rudi en Chavonne by hul gesellige huis in SW5, Vanderbijlpark, was dit duidelik dat die paartjie sterk staan in hul geloof, maar dat die hartseer oor Luka nog vlak lê.
“Die tweeling se geboorte op 5 Mei was ‘n bittersoet ervaring vir ons,” sê Chavonne. Pa Rudi het die geboorte, wat met ‘n epidurale keisersneë uitgevoer is, van begin tot einde op video vasgelê. Chavonne was deurgaans by haar bewussyn. Luka is om 17:11 gebore en Liam twee minute later.
“Toe ek die twee stemmetjies hoor skree, het ek gelyktydig gelag en gehuil,” sê Chavonne. Sy glo dit was ook ‘n baie emosionele oomblik vir die dokters wat die geboorte waargeneem het, veral vir dr. Du Toit, wat Luka se hartdefek eerste gedurende die swangerskap tydens ‘n sonarondersoek opgemerk het.
“Ons het verwag dat Luka nie langer as ‘n dag sou bly leef nie. ‘n Echocardiogram kort na sy geboorte het getoon dat daar wel ‘n bietjie bloedvloei na sy linkerhartkamer toe was, maar dat daar ook ‘n gewas was wat die bloedvloei beperk het.”
Medici het aanbeveel dat hy na Sunninghill-hospitaal in Sandton oorgeplaas moes word vir ‘n deeglike kardio-ondersoek, maar teen Saterdagaand het hy opmerklik swakker begin word.
“Teen Sondagoggend kon ek self sien dat dit nie goed gaan nie. Luka se suurstoftelling het laag gebly en hy was te swak om na Sandton oorgeplaas te word,” sê Rudi. Toe die ouers boonop die nuus kry dat die hartkleppie wat ‘n bietjie bloed deurgelaat het intussen heeltemal gesluit het, het hulle besef die einde was naby. Die hospitaal het goedgunstiglik ‘n kamer aan Chavonne en Rudi beskikbaar gestel waar hulle privaat van Luka afskeid kon neem. Ook die oumas, mevv. Suzette Hall en Ronnie Howard, is toegelaat om hul kleinseun te kom groet. Van die ander familie, insluitend Luka en Liam se ouma- en oupagrootjie, kon hom van buite deur die venster sien en vir oulaas groet.
“Hy het sy laaste asempie om 11:15 in my arms uitgeblaas,” sê Chavonne. “Ons het ons oë uitgehuil.” Hulle het Woensdag tydens ‘n private seremonie by Berthom-begrafnisdienste van Luka afskeid geneem.
“Ons glo God se wil het geskied. Ons voel geseënd dat Liam 100% gesond is en dat dit verskriklik goed gaan met hom. Ons gaan ‘n spesiale uitstalkabinet met al Luka se teddies, komberse en kleertjies maak en sodra Liam groot genoeg is om te verstaan, sal ons hom van sy boetie vertel,” sê Rudi.
Die paartjie bedank Emfuleni Mediclinic se personeel sowel as die dokters, L.L. du Toit, F.J. Engelbrecht, M. Pelo en R.Z.I van Huyssteen vir hul professionele diens voor, tydens en na die geboorte. “Baie dankie ook aan al die lesers wat vir ons en Luka gebid het.”




***************************************************************************************************************
