Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, Hoofsweep van die Midvaal-stadsraad:
Soos u teen die tyd weet is Sedibeng verklaar tot ‘n Covid-19 gevaarsone. Dit voel kompleet asof die virus nou eers sy eerste vlaag by ons tref aangesien ons redelik lig daarvan afgekom het in die eerste en tweede golf. Dit beteken ook dat ons te gerus geraak het a.g.v. die minimale impak wat ons tot dusver in die Vaal ervaar het en dus nou in groter gevaar verkeer.
In 2020 was daar persepsie dat die Covid-19 virus ’n sameswering is en statistieke wat die sterftes met die van hartaanvalle, moorde en aborsies vergelyk het orals die ronde gedoen. Deesdae is hierdie plasings minder aangesien die virus se getalle so dramaties toegeneem het dat dit vinnig besig is om die hoof rede vir afsterftes in die wêreld te word, per jaar. Daar is dan ook vrae oor die oorrapportering van Covid-19 sterftes soos waar ʼn persoon in ʼn motorongeluk oorlede is maar sy doodsertifikaat skryf dit toe aan die virus. Daar sal altyd sulke bedrog wees en mens moet dit eerder verdiskonteer teen die gevalle wat glad nie aangemeld word of gediagnoseer word nie.
Die ondenkbare grendelstate in Europa, VSA en Australasië is ‘n vae herinnering en alhoewel Suid-Afrika ‘n goeie knou gekry het, is dit nie vergelykbaar met wat tans in Indië afspeel nie. Die situasie in Indië met die laissez-faire houding van gemeenskappe, hul regering se onvermoë om die pandemie ernstig op te neem, sowel as die gebrek aan inentings, oorpopulasie en slegte lewensomstandighede skep ʼn skrille vergelyking met Suid-Afrika. Dit voorspel redelike donker tye wat vir Suid-Afrika voorlê.
Ons enigste hoop is om nou nog meer as ooit versigtig te wees met ons interaksies, die gebruik van effektiewe maskers wat reg gedra word en deur ons afstande te hou. Onnodige nalatigheid kan jou en jou geliefdes se lewens in gevaar stel. Dit is baie beter om oorversigtig te wees as om later spyt te wees.
Inentings word deur die regering gereguleer en soms onregverdiglik beheer. As mens in ag neem dat die Wes-Kaap hulle eie inentings wou bestel en toedien maar toestemming deur die staat geweier is, laat dit mens wonder of hulle nie teen die tyd al beter daartoe af sou gewees het nie. Ongelukkig is die regering se inentingsprogram nalatig stadig en redelik ver agter skedule. In Gauteng sal die 1,3 miljoen persone bo 60 jarige ouderdom eerste toegang tot die inenting kry.
Volgens berigte is daar egter slegs 10 300 inentings in Gauteng beskikbaar en word opgedeel tussen die verskeie distrikte. Die 29 inentingsentrums word ook beperk tot staatsinstellings soos Orange Farm Primary Health Care Clinic.
U kan registreer vir die inenting deur ʼn:
- Whatsapp te stuur na: 0600 123 456, of
- SMS te stuur na: *134*832*u ID nommer #, of
- Op die web by: vaccine.enroll.health.gov.za
Die COVID-19 tolvrye hulplyn is 0800 029 999.
Wees asb. versigtig en pas uself mooi op.
Trotse Midvaal Groete
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

*******************************************************************************************************************
