VANDERBIJLPARK. – ’n Bekende voormalige Springbokskut en oud-polisieman, Don Smith, het op Saterdag, 22 Mei, ‘n weke lange stryd teen Covid-19 verloor. Hy was 68 jaar oud.
Mnr. Smith is op 24 September 1952 in Pretoria gebore. Hy het in 1969 in Lichtenburg by die Polisie aangesluit en was later ‘n student by die polisiestasie in Vanderbijlpark. Hy was 18 jaar by die dorp se eerste polisiestasie gestasioneer, wat toe nog in Becquerelstraat 7 was voordat die stasie na Vanderbijlpark se sakesentrum verskuif is.Hy het sy toekomstige vrou, Annetjie Moolman, 49 jaar gelede hier ontmoet en hulle is in 1975 getroud. Annetjie was destyds Vanderbijlpark se heel eerste vroulike polisiebeampte.
Die Smith-egpaar se oudste dogter, Monya, was die dorp se eerste “volbloed-polisiebaba”, met ‘n ma en pa wat albei lede van die destydse Polisiemag was.
“Don was ‘n polisieman in murg en been. Stiptelikheid was seker een van sy sterkste punte, asook sy netheid,” sê Annetjie. Een van sy onvergeetlikste ervarings in die Polisie was toe hy deel was van die span wat die bankrower, André Stander, moes voorlê. ‘n Skietery het die aand uitgebreek en Don is in die been gewond.
Buiten dat hy Transvaal- en Springbokkleure in skiet ontvang het, het hy ook ‘n medalje vir sy deelname aan veerpyltjies gekry. Hy was ‘n opgeleide polisieduiker, en duik en hengel was dwarsdeur sy lewe geliefkoosde stokperdjies. Hy was ook ‘n gekwalifiseerde wapensmid en lief daarvoor om met vuurwapens te werk.
“Hy was ‘n streng maar liefdevolle pa vir ons twee dogters en het ‘n sterk geloof in God gehad. Dit was ‘n lewenshoogtepunt vir hom toe ons in 1986 Israel toe was,” sê Annetjie.
Don en Annetjie het einde April Covid-19 opgedoen en hul jongste dogter Adéle, het tuis na hulle omgesien, met Monya en skoonseun Sjaan le Hanie, en vriende Ansie en Robert Cato wat uitgehelp het met kos. Die Smith-egpaar se toestand het egter verswak en op 6 Mei is albei per ambulans na Emfuleni Mediclinic vervoer en in die Covid-ICU opgeneem.
“Ek was oornag beter en is die volgende dag na ‘n Covid-kamer in ‘n algemene saal verskuif. Don moes egter in die intensiewe sorgafdeling bly. Nie een van ons was in daardie stadium bewus daarvan dat die ander nog in die hospitaal was nie. Don is later in ‘n geïnduseerde koma geplaas. Hy het vyfdegraadse nierversaking gehad sowel as hoë bloeddruk. Sy longe was ook erg aangetas deur die virus,” sê Annetjie.
“Emfuleni Mediclinic het baie goed en mooi met hom gewerk. Hulle het twee weke lank alles probeer om hom gesond te kry,” sê dogter Monya.
In die drie weke voor sy dood kon Don een besoeker vir vyf minute per dag ontvang en Annetjie, wat intussen uit die hospitaal ontslaan is, het elke dag die kans benut om hom te sien. Hoewel sy toestand mettertyd gestabiliseer is, kon hy verlede Saterdag, 22 Mei, net nie meer veg nie. Hy is die aand kort voor 20:00 aan Covid-pneumonie oorlede.
“Die aand van sy dood was ons nét te laat om finaal afskeid te neem. Hy was reeds weg toe ons daar aankom. My ma kon vir oulaas aan hom vat. Sy liggaam was nog warm,” sê Monya. Wyle mnr. Smith word buiten sy vrou en kinders ook oorleef deur vier kleinkinders, Serinde, Verranique, Mikhael en Chanya. Sy huldigingsdiens is op 27 Mei deur pastoor Michael Keeve van The Family of Love and Faith-gemeente in Helena Lochnerstraat, Vanderbijlpark, waargeneem.
* Annetjie, wat ‘n week na haar opname uit die hospitaal ontslaan is, word tuis bygestaan deur haar kinders. Sy sê sy sukkel nog met haar balans en verlies aan smaak en reuk.


Foto onder: Don Smith in sy jonger dae.

***************************************************************************************************************
