MEYERTON. – ‘n Ouerpaar van Midvaal, Bernard en Heidi Benson, se sorgelose lewe het soos handomkeer verander toe hul jongste kind, Payton (7), ‘n paar weke gelede met leukemie gediagnoseer is.
Hul kennismaking met die Groot K het Saterdag, 10 April begin, toe Payton siek geword het en met ‘n baie hoë koors dokter toe geneem is. Niemand het in daardie stadium vermoed dat dit kanker kon wees nie.“Die dokter het vir haar medisyne voorgeskryf en ons is terug huis toe,” sê Heidi. “By die huis gekom, het Payton haar toon liggies gestamp toe sy uit die kar klim. Dit was niks ernstigs nie, maar daardie nag kon sy nie slaap nie soos wat die toon gepyn het. Ek kon nie glo hoe vinnig die toon ontsteek het nie en het vermoed dis dalk gebreek. Ons het haar vroeg die volgende oggend ongevalle toe geneem.”
X-strale het gewys dat niks gebreek is nie. Payton is weer huis toe gestuur, maar soos alle ma’s wat hul kinders ken, het Heidi ‘n knaende bekommernis gehad dat daar iets ernstiger met Payton verkeerd was. Teen Maandag, 12 April, is hulle terug na hul huisdokter en Payton is met nóg medikasie huis toe gestuur. ‘n Paar dae later het Payton gekla dat sy nie kon asem kry wanneer sy loop nie, en hulle is terug na Mediclinic Vereeniging se ongevalle-afdeling. Payton het gedurende die rit vanaf Meyerton na Vereeniging so vinnig verswak dat sy by die hospitaal nie meer self uit die kar kon klim nie. Sy is dadelik ondersoek en het ‘n bloedoortapping ontvang toe vasgestel is dat sy aan akute bloedarmoede ly.
“Dr. Jacob Nhlapo, ‘n pediater van Vereeniging, het Payton laat opneem en vir my gesê sy het moontlik Covid-19 óf leukemie. Ek het nooit gedink ek sal bid dat my kind Covid moet hê nie, want as mens hoor jou kind het dalk kanker, ruk dit nogal jou hart uit. Payton is per ambulans na die Wits Donald Gordon Hospitaal in Johannesburg vervoer, waar bevind is dat sy leukemie het. Daar is dadelik met chemoterapie begin,” sê Heidi.Leukemie is ‘n groep bloedkankers wat gewoonlik in die beenmurg begin en ‘n groot aantal abnormale witbloedselle tot gevolg het. Simptome kan bloeding en kneusplekke insluit, moegheid, koors en ‘n verhoogde risiko vir infeksies. Diagnose word gewoonlik gemaak deur bloedtoetse of ‘n beenmurgbiopsie.
Die hospitaal het die afgelope ses weke soos ‘n tweede huis vir die Benson-familie geword. Payton was teen Vaalweekblad se saktyd besig met haar derde rondte chemo. Verdere beenmurgtoetse en ‘n lumber punch lê in die volgende dae voor.
Dié pragtige graad 2-leerder van Laerskool Midvaal, wat op 27 Junie haar agtste verjaardag vier, se glimlag is nog so spontaan soos altyd. Met haar veggees skort daar ook niks.
Die gesin se mediese fonds dek ongelukkig nie al Payton se uitgawes nie en verskeie fondsinsamelings word beplan om die gesin by te staan. Een daarvan is ‘n “Two Day Virtual Run – Steps for Payton”. Dit gaan behels dat enigiemand wat bereid is om R50 vir Payton by te dra, op 26 en 27 Junie aan ‘n virtuele stap, draf of fietsry van 5km, 10km of 25km kan deelneem.
Vaalweekblad sal graag almal wat aan die uitdaging deelneem, se name op ons webwerf en Facebook lys. Vir inskrywing en registrasie vir die virtuele uitdaging, stuur asseblief ‘n e-pos na paytonbensonfundraiser@gmail.com.
Verdere inligting is beskikbaar by 073 478 4228.
Deelnemers sowel as mense wat net ‘n donasie wil maak, kan R50 by Capitec, Miss P. Benson, spaarrekeningnommer: 1776978461 inbetaal.


*********************************************************************************************************************
