‘n Ontstellende stempos van ‘n Vaaldriehoekse mediese werker wat huilend vertel van die geweldige verwoesting wat die Covid-19 virus die afgelope week op die Vaaldriehoek het, doen tans die rondte op Whatsapp en Telegram. Vaalweekblad is in die proses om die feite in die boodskap te verifieer, maar ons het rede om te glo dat alles die waarheid is. Dit is in elkeen se eie belang om die boodskap ernstig op te neem.
Die boodskap lui soos volg:
“Ek wil vanaand ‘n beroep doen op elkeen van julle om asseblief te heroorweeg om enigsins iewers heen te gaan, om enigsins kontak te hê met mense wat julle ken of wat julle nie ken nie; enigsins om familiebyeenkomste of groepe wat bymekaar kom te vermy sover as moontlik. Ons het in ‘n kwessie van ‘n dag gegaan van twee Covid-sale na vier Covid-sale.
Ek sê dit vir julle omdat ek die werklikheid sien gebeur. Glo my as ek sê dis van klein kindertjies – ek het sopas ‘n 17-jarige seun met full-blown Covid teruggevat saal toe nadat ons hom geopereer het. Ek wil vir julle sê, dink voordat jy iewers heen gaan, en as jy iewers heen gaan, sit jou masker op.
Dra jou masker ten alle tye. Dit is jou enigste manier om nie hierdie siekte te kry nie, en GLO my as ek dit vir julle sê: Julle wil dit nie hê nie. Julle wil dit nie hê nie!
Ons het hierdie naweek Pa se verjaarsdag , ons het Vadersdag. Ek vra elkeen om te heroorweeg om na Pa-hulle toe te gaan. As jy hierdie virus oorgedra het na Pa-hulle … soos wat ek nou huis toe ry, dis amper kwart voor 7… 8 vanaand, is daar nie ‘n enkele bed in die Vaaldriehoek beskikbaar vir enige pasiënt wat moet opgeneem word met Covid nie. Dis ondanks die feit dat ons ‘n rukkie terug ons vierde saal oopgemaak het.
Ek doen ‘n beroep op elkeen van julle: Heroorweeg… dink mooi… As Pa of Ma hierdie siekte moet kry… ek wil nie eers aan die gevolge dink daarvan nie.
Ek sê hierdie goed nie om vir julle bang te maak nie, ek sê dit vir julle omdat ek dit SIEN voor my oë gebeur en daar is niks wat ek kan doen om julle die werklikheid te laat sien van hierdie ding nie. Dis verwoestend! Dis verskriklik om so dood te gaan, glo my!
En dis ongeag hoe oud jy is, dis ongeag of jy ‘n man of ‘n vrou is, dis ongeag wat jou geloof of jou kleur is. Glo my, as jy dit HET, het jy ‘n probleem. Ons het verlede week drie pasiënte gehad wat ons tracheostomies op gedoen het in die Covid-ICU. Nie EEN het die volgende 48 uur oorleef nie.
Asseblief, ek vra mooi, heroorweeg … as jy nie vir Pa sien op sy verjaarsdag nie, maak dit ons nie slegte kinders nie. Dit maak ons kinders wat omgee vir ons ouers. Ek hoop julle luister en ek hoop julle verstaan my boodskap, want ek sê dit met alle liefde in my hart. Daar is bittermin gesinne wat deur hierdie ding gaan kom sonder om ‘n familielid te verloor. Glo my as ek dit vir julle sê.
So asseblief, slaan ag daarop en as jy dink ek praat nonsens, kom EEN dag, net EEN dag saam met my en kom kyk, en kom sien wat ek sien, dan belowe ek jou gaan jy nooit weer jou masker van jou gesig afhaal nie. Ek hoop julle het elkeen ‘n geseënde aand. Lekker slaap.”

******************************************************************************************************
