Local newsNewsNews

Solidariteit sal werkgewers wat werknemers oor inentings ontslaan, hof toe vat

Solidariteit sal werkgewers wat werknemers ontslaan oor hulle keuse om nie ingeënt te word nie, hof toe vat. Solidariteit het, na aanleiding van die nuwe direktief soos uitgevaardig deur die Departement van Arbeid op 28 Mei 2021, ’n omvattende eksterne regsopinie gekry wat bevestig dat werknemers ’n reg het om te kies om nie ingeënt te word nie en werkgewers mag hulle nie van hierdie keuse ontneem nie.

Solidariteit is van mening dat daar sekerheid in die direktief van die Departement gegee word dat werknemers die reg het om die entstof op grond van grondwetlike- en liggaamlike- integriteitsredes te weier, en dat werkgewers alles in hulle vermoë moet doen om sodanige werknemers te akkommodeer. Volgens Solidariteit sal dit ook onwettig van ’n werkgewer wees om inentings verpligtend te maak, sonder om individue se grondwetlike regte soos liggaamlike integriteit, in ag te neem.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sal entstowwe dwarsoor die wêreld ’n groot rol in die bekamping van die virus speel. Dit sal in Suid-Afrika ook die geval wees. Dit gaan nie hier oor ’n “vír of téén entstof”-debat nie, maar oor vryheid om te kan kies.

Solidariteit voer egter aan dat terwyl sommige voorstanders van verpligte inenting in die werkplek graag wil aanvoer dat die werkgewer ingevolge die direktief die onbeperkte reg het om eensydig te besluit oor inentings by die werk, dit eintlik die regte van werknemers om die inenting op onder andere geloof en/of liggaamlike integriteitsredes te weier, benadruk.

“Die nuwe direktief van die Departement van Arbeid se uitgangspunt is dat inentings nie eensydig verpligtend gemaak mag word nie,” stel Hermann. “Die aanwysings bepaal ook dat in hoogs uitsonderlike omstandighede en na behoorlike analises en konsultering kan werkgewers verwag dat werknemers in sekere werkareas ingeënt moet word. Ons kan egter nie toelaat dat mense die uitsondering en die reël met mekaar verwar nie.”

Die aanwysings bepaal egter dat, selfs in hoogs uitsonderlike omstandighede, het werknemers steeds ’n keuse om nie die entstof te neem nie. Motiverings kan mediese toestande, godsdienstige redes en die grondwetlike reg tot liggaamlike integriteit insluit. Dit is die werkgewers se verantwoordelikheid om alternatiewe vir werknemers te vind wat hulle keuse uitoefen.

“Werknemers het die vryheid om ’n keuse te maak. Dié aanwysings kan nie aan werknemers die reg gee om te kies en dan is daar gevolge by hulle werkgewers nie. Gedwonge inentings sal eerder meer weerstand veroorsaak.

“Hierdie eensydige besluit wat deur sommige mense en werkgewers as die reël aanvaar word, is uiters gevaarlik. Daar is hoegenaamd nie sprake van so eensydige verpligte entstof toediening besluit en toepassing van ’n werkgewer nie,” verduidelik Hermann.

“Dit is eenvoudig onwettig vir ʼn werkgewer om eensydig ʼn werknemer te verplig om ingeënt te word, en daar kan selfs geargumenteer word dat dit strafregtelik en grondwetlik inbraak maak op elke individu se persoonlike reg tot liggaamlike integriteit. Ons sal nie huiwer om ons lede met die volle mag van die reg te beskerm, indien werkgewers sulke drastiese besluite neem nie,” sluit Hermann af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button