Presiese ligging van beoogde Vaal-lughawe onthul
Die beoogde lughawe sal op landbougrond noordwes van Vanderbijlpark ontwikkel word.
VANDERBIJLPARK – Die beoogde Vaal Aerotropolis-lughawe is ’n stap nader aan ontwikkeling nadat ’n amptelike aansoek ingedien is om die grond vir die ontwikkeling te laat goedkeur.
Volgens ’n kennisgewing wat in die Staatskoerant gepubliseer is, beslaan die grond waarvoor die ontwikkelingsaansoek ingedien is sowat 3 543 hektaar.
Die ligging van die beoogde lughawe word beskryf as sowat 9 km wes van die N1, noord van die R54, wes van die Leeuspruit en suid van die bestaande Transnet-spoorlyn tussen Vereeniging en Potchefstroom.
Dit is noordwes van Vanderbijlpark en wes van Sebokeng geleë.
9 km wes van die N1, noord van die R54 en wes van die Leeuspruit
Die groter Vaal Aerotropolis-projek maak voorsiening vir onder meer ’n internasionale lughawe, asook handels-, vrag- en logistieke bedrywighede en landbou-ontwikkeling.
Volgens die kennisgewing sal die voorgestelde dorpsgebied uit 29 erwe bestaan. Nege daarvan word vir ’n vliegveld en verwante gebruike beoog, terwyl ander erwe vir onder meer sake-, landbou- en openbare dienste, nutsdienste, oop ruimtes en paaie bestem is.
Lede van die publiek kan die aansoek ondersoek en kommentaar of besware daarteen indien.

