Motorfietsryer per helikopter hospitaal toe ná ongeluk
Motorfiets het ná die ongeluk in Houtkopweg aan die brand geslaan.
VEREENIGING – ’n Motorfietsryer is ernstig beseer en per helikopter na ’n Johannesburgse hospitaal geneem nadat hy Saterdagaand in Houtkopweg beheer oor sy motorfiets verloor het.
Die ongeluk het Saterdagaand, 26 September, ná 21:00 plaasgevind.
Die motorfiets het ná die ongeluk aan die brand geslaan
Volgens inligting wat ontvang is, het die motorfietsryer vermoedelik ’n randsteen getref en daarna beheer oor die motorfiets verloor.
Geen ander voertuie was by die ongeluk betrokke nie.
Die motorfiets het ná die ongeluk aan die brand geslaan.
Nooddienste en ander rolspelers is na die toneel ontbied, waar die beseerde motorfietsryer behandel is voordat hy per helikopter na ’n hospitaal in Johannesburg vervoer is.

Sekuriteit Sonder Grense het ná die voorval in ’n mediaverklaring gesê verskeie nood-, veiligheids- en gemeenskapsorganisasies het op die toneel saamgewerk.
Volgens die veiligheidsmaatskappy het sy lede en die Vereeniging Sektor 2 GPF onder meer gehelp om verkeer te beheer en die toneel te beveilig, sodat mediese personeel op die behandeling van die beseerde kon fokus.

Sekuriteit Sonder Grense het CERT, Frontline of Hope Ministries, First Responder Vanderbijlpark, VRU, Vereeniging Sektor 2 GPF, Alf Trio Towing en ER24 bedank vir hul betrokkenheid en samewerking op die toneel.
Die presiese aard en omvang van die motorfietsryer se beserings was teen publikasie nie bekend nie.

