Vaaldriehoek se buurdorp is 150 jaar oud
Vanderbijlpark se buurdorp, Parys het 24 September groot gegaan met hul 150 jaar vieringe. Vaalweekblad het gaan inloer.
PARYS – Dié dorp langs die Vaalrivier was Erfenisdag van vroeg af in rep en roer. Vir besoekers wat nie bewus was van die belangrikheid van die dag nie, was dit vreemd om skielik mense in Voortrekkerdrag en selfs Engelse “soldate” raak te loop.

Parys is die jaar 150 jaar oud en watter beter dag om hul geskiedenis te vier as Erfenisdag. Die braai is nie agterweë gelaat nie. Tussen die stalletjies onder die ou bome het die manne van die FAK rustig boerewors gebraai terwyl die Voorlopers Boereorkes mense se voete laat jeuk het met tradisionele boeremusiek.

In Breëstraat was daar teen 09:00 al nie meer parkering nie. Die mense het die restaurante se stoeptafels toegesit en by die groot winkel op die hoek het ʼn gesin hul luiters agter op hul bakkie tuisgemaak.

Uiteindelik is die strate afgesper en kon die blaasorkes van ver af gehoor word. Die optog was in aantog. Almal was vrolik ten spyte van die son wat goed korrel gevat het.

Dit was ʼn kleurryke gesig en ʼn mengsel van toeka tot nou. Van die laerskool trompoppies en die Tumahole Youth Brass Band, tot by die Volkspele groep, die Boere en Rooibaadjies uit die Anglo-Boereoorlog en die veteraan motors. Die agterhoede is gedek deur die brandweer en ander nooddienste.

Terwyl daar ʼn vertoning van plaaslike dansers en kunstenaars in die hoofstraat was, het die voorste gedeelte van die optog koelte onder die ou bome gaan soek, soos wat vele geslagte voor hulle al gedoen het.




