VANDERBIJLPARK. – Terwyl klein Melienke Swart (11 maande) die wêreld vol kruip en harte met haar breë glimlag steel, is dit moeilik om te glo dat dié babadogtertjie die afgelope jaar intense pyn moes verduur weens ‘n aangebore afwyking en verskeie ingrypende operasies.
Vaalweekblad het vroeër vanjaar berig oor Melienke, die wenner van die A-afdeling in verlede jaar se Baba- en Kleuterwedstryd, wat aan Hirschsprung se siekte ly. Dit is ‘n toestand waar afwesige senuweeselle in die spiere van haar grootderm veroorsaak het dat sy nie normaal kon ontlas nie. Sy moes van kort na haar geboorte ‘n kolostomiesakkie dra.
Sy het in April ‘n groot operasie ondergaan waartydens 90% van haar dikderm verwyder is en haar ingewande sodanig aangepas is dat sy nie meer ‘n sakkie hoef te dra nie. Die nadeel van die verwydering van so ‘n groot persentasie van haar dikderm is dat dit die absorpsie van voedingstowwe beperk. Sy sal vir die res van haar lewe duur aanvullings moet neem en ‘n spesiale dieet moet volg.
Melienke het aanvanklik goed herstel na die operasie maar het in Mei verskeie terugslae soos diarree en twee maagvirusse gehad. Die gevolg was dat sy weer vir weke in die hospitaal behandel moes word.
Sy is nou tuis en maak goeie vordering, sê haar ma, mev. Cynthia Swart.
“Melienke groei mooi en tel al gewig op. Die gastro-enteroloog is ook baie tevrede. Sy kruip die hele wêreld vol en staan al op haar eie, en waai vir almal. Sy is regtig ‘n baie vriendelike dogtertjie en glimlag baie. Ons sukkel sedert die operasie nog net baie met brandboudjies. Dit is nog stukkend en rou,” sê Cynthia.
Melienke kry ook soms nog baie seer as sy ‘n stoelgang moet passeer en huil dan ontroosbaar, wat hartverskeurend vir haar ouers is om te beleef. “Ek wens só ek kon net haar pyn wegvat. Al wat ons dan kan doen is om haar ruggie te vryf en rustig met haar te praat totdat sy kalmeer en dit verby is,” sê Cynthia.
Melienke moet in Augustus weer by die spesialis en chirurg wees, maar die Swart-egpaar se medies is nou uitgeput. Van hier af moet hulle alle doktersafsprake kontant betaal. Die twee spesialiste se besoeke kos onderskeidelik R2 500 en R1 500 per afspraak. Daarby lê en wag daar ook reeds etlike duisende rand se bloedtoetsrekeninge en bybetalings om die onlangse hospitaalkoste te dek.
Enigiemand wat die Swart-egpaar met ‘n bydrae wil bystaan, kan dit inbetaal by C. Swart, Capitec Savings Account, 1646018360.
* Weens die swak ekonomie het Melienke se pa, Danie, sy werk as semi-vaardige ketelmaker verloor en kon tot dusver nog nie weer werk kry nie. Enigiemand wat dalk ‘n werksgeleentheid vir hom het, is welkom om hom by 082 064 1511 te kontak.



******************************************************************************************************************************
