Local newsNewsNews

Die gesonheidswerkers baklei onverpoos voort

Dankie aan al die gesondheidspersoneel, van die dokters tot by die fisioterapeute, die skoonmakers en die verpleegpersoneel van die intensiewe en hoësorgeenhede wat elke dag veg om pasiënte met Covid-19 komplikasies te red. Hierdie artikel is opgedra aan julle.

Voor 07:00 is die eenheidsbestuurder en meeste van die susters alreeds op hul poste. Van kop tot tone bedek in beskermde klere.

Agter die maskers lyk hul oë moeg. By elke pasiënt se bed in die intensiewe sorgeenheid word daar in detail verslag gegee deur die nagpersoneel.

Die dagpersoneel neem hul posisies voor die beddens in.

In die hoek van die eenheid by die deur, gaan staan die jongman voor die bed.

Hy begin dadelik die groot vorms voor hom invul. Vir 12 ure elke dag is al sy aandag by die pasiënt voor hom. Hy staan die hele dag, soos die meeste van sy kollegas,

Die verpleegpersoneel, dieëtkundiges, fisioterapeute, skoonmakers en dokters het net een doel voor oë en dit is om elke Covid-19 pasiënt se lewe te red en hulle op die pad van herstel te sit.

Sterf een van die pasiënte is almal verslae. Kan ‘n pasiënt uitgeskuif word na die saal is almal dankbaar en bly, want hulle weet daardie pasiënt se volgende skuif is huis toe.

Daar is tye wat dinge te veel raak. Wat jy ‘n gesmoorde, “ek gaan net bietjie uit”, hoor.

Dan gaan soek hulle bietjie asem en rus buite, maar nooit vir lank nie.

Teen 19:00 die aand is die nagskofspan reeds daar. Kan die dagskofspan groet en by die deure uitloop.

Baie kom eers laat by die huis afhangende van die verkeer en die taxi’s. Daar moet hul nog na gesinne omsien.

Tydens die groot kouefront lei ek af uit gesprekke rondom my bed, dat nie almal warm water by die huise het nie.

Die eenheidsbestuurder en susters in beheer kan nie 19:00 huis toe gaan nie.

Die oorgee van die een skof na die ander neem lank en daar is altyd nog iets wat gou uitgesorteer of klaargemaak moet word.

Dis nie snaaks om hulle eers teen 20:30 te sien gaan nie. Die nagskofpersoneel het ook hul hande vol.

Daardie vorms moet ingevul word. Die monitors skree aanmekaar. Dripsakke moet vervang word. Pasiënte moet rustig gehou word en moed ingepraat word.

Een suster by elke pasiënt se bed. In my lewe het ek nog nooit soveel toegewydheid gesien nie.

Met die uitsondering van een personeellid wat seker maar baie moeg was die nag, het almal jou met deernis hanteer.

Op ‘n stadium is daar twee van die gesondheidswerkers doenig by my bed.

Vra ek hulle of is hierdie derde golf nou erger as die eerste twee?

Hul antwoord: “Wave? What wave? Don’t talk to us about waves. It has been like this from the start” en sy beduie na die res van die eenheid waar daar nie ‘n enkele bed oop is nie.

Die mense is moeg. Van hulle loop mank want hul voete, knieë en rue kan nie meer nie.

Soms raak hulle ongeduldig met mekaar, soms baklei die eenheidsbestuurders as die vorms nie geteken is nie.

Die eenheid is ‘n wêreldjie op sy eie. Hulle dra mekaar se penne weg, al is dit gemerk en die stapler is gereeld soek.

In die nanag help hulle mekaar om pasiënte te was en beddens oor te trek.

Soms kry hul iets om oor te lag en hul waardeer dit as iemand vir hul koek of pizza skenk.

Dis ook nie net die verpleegpersoneel wat hierdie ongelooflike deursettingsvermoë toon en die ekstra myl stap nie.

Voor dagbreek doen die mense met die x-straal masjiene al hul rondtes en die bloeddienste se personeel kan kort-kort deur die dag en nag gesien word.

Die dokters is vroegoggend daar om te sien hoe dit met hul pasiënte gaan, behalwe as daar ‘n krisis is, dan is hul bykans dadelik in die nag ook te sien.

Die fisioterapeute is tweemaal op ‘n dag in die eenheid. Ook hulle doen nie net fisio nie, hulle praat moed in. Vertel stories. Enige iets om die pasiënt te help.

Almal daar is toegewyd. Diensbaar. Onselfsugtig. Hulle hou net aan en aan.

Ek het met heelwat van hulle gesels en almal het my gevra om dieselfde boodskap oor te dra aan die mense buite die hospitaal.

“Hou by die regulasies. Dra jou masker. Julle wil nie hier kom lê nie. Moenie Covid-19 ligtelik opneem nie. Gaan vir die inenting. Asseblief.”

Soos een suster vir my gesê het: “If only the people would listen. We are tired, but we will never give up.”  

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button