News

Oudfotograaf van Vaalweekblad sterf twee weke na sy ma

‘n Oudfotograaf en -sportverslaggewer van Vaalweekblad, mnr. Duard (Eddie) Bronkhorst, het verlede Sondag sy stryd teen Covid-19 verloor.

‘n Oudfotograaf en -sportverslaggewer van Vaalweekblad, mnr. Duard (Eddie) Bronkhorst, het verlede Sondag sy stryd teen Covid-19 verloor.

Duard was gedurende die 1980s aan Vaalweekblad verbonde en het later sy eie onderneming, Mr Power Tool Repair, in Vereeniging geopen. Hy het later in die 1980s en 1990s ook naam gemaak as private sportfotograaf wat hoëgehalte fotoportefeuljes vir verskeie van die Vaaldriehoek se bekende sportmanne en -vroue geneem het.

Duard het in 1996 na die gesin se familieplaas, Maanhaarrand, tussen Rustenburg en Magaliesburg, verhuis om sy ouers by te staan. Hy het tot met sy dood ook op sy eie plaas Rhenosterhoek in dieselfde distrik geboer. Hoewel hy 28 jaar in ‘n vaste verhouding was, het hy nooit getrou of kinders gehad nie.

“Ons sal hom altyd onthou as die man met die sagte hart en sy unieke sin van humor. Hy was enige kind se droom-oom,” sê sy suster, Alta, wat ook in die Vaaldriehoek grootgeword het.

Haar en Duard se ouers, mnr. Boet en mev. Lotie Bronkhorst, was jarelange inwoners van Vanderbijlpark voordat hulle in 1981 na hul familieplaas verhuis het. Mnr. Bronkhorst senior, wat tot met sy aftrede by die destydse Yskor gewerk het, is reeds in 2016 oorlede.

“My ma het so twee weke voor Duard in die Milpark-hospitaal aan Covid-19 gesterf terwyl ekself ook die siekte onder lede gehad het. Sy was ‘n vrou met ‘n hart van goud en het ook diep spore in die Vaaldriehoek getrap. Sy het baie jare by Foschini’s in Vanderbijlpark gewerk en was ten tyde van haar afsterwe 90 jaar oud,” sê Alta. “Ek salueer twee baie spesiale mense.”

 

Wyle Duard Bronkhorst, oudfotograaf en -sportverslaggewer van Vaalweekblad, het twee weke na sy ma aan Covid-19 beswyk.
Wyle mev. Lotie Bronkhorst (90), wat haar stryd teen Covid-19 in die Milpark-hospitaal verloor het.

FOTO ONDER: Wyle mnr. Boet en mev. Lotie Bronkhorst saam met hul dogter, Lizette Schutte (Settie), wat reeds in 2016, drie maande voor haar pa, oorlede is. Mnr. Boet Bronkhorst het tot met sy aftrede in die 1980s by die destydse Yskor gewerk, en mev. Bronkhorst was ‘n jarelange werknemer by Foschini’s in Vanderbijlpark.

********************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button