News

Bassopa behaal groot sukses teen Vaaldam se skelm hengelaars

“Die misdadigers is beslis nie honger mense nie. Uit ondervinding het ons al gevind dit word georganiseer deur nyaope-dwelmbase wat dan die visverkope as kapitalisering vir hul dwelmbedryf en ander kriminele dade gebruik”

ORANJEVILLE. – Wetsgehoorsame hengelaars, wat lankal wrewelig is oor ongure karakters wat duisende visse met nette in die Vaaldam vang, juig nadat ‘n vermeende sindikaat deur Bassopa Security & Tracking vasgetrek is. Ses verdagtes is aan die polisie oorhandig en in hegtenis geneem.

Volgens mnr. Joep Marais van Bassopa, lewer dié sekuriteitsmaatskappy ‘n uitgebreide diens aan die landbougemeenskap in die gebied. Die takke in Oranjeville en Deneysville was by die arrestasies betrokke. Bassopa-personeel in patrolliebakkies het die oggend van 24 Julie twee verdagte voertuie tussen Oranjeville en Deneysville opgemerk. Die agterste voertuig het duidelik nette en kano’s op gehad. By nadere ondersoek is honderde visse in die verdagtes se besit gevind.

“Die vang met nette is al ‘n geruime tyd ‘n groot probleem in die Vaaldam-area. Dié metode van hengel is teen die wet. ‘n Ander probleem is dat die grootbekgeelvis ‘n beskermde spesie is. ‘n Net diskrimineer nie teen wat gevang word nie. Daar was dus ook van dié spesie tussen die gekonfiskeerde vis,” sê Marais.

Die ses verdagtes is weens die oortreding van natuurbewaringswette (Wet 8/1969 artikel 27-1) aangekla. Twee van die ses is onwettig in die land en is ook weens die oortreding van die Immigrasiewet – Wet 13/2002 artikel (1)(a) – aangekla. Marais sê hul sekuriteitsdiens, boere en die polisie het reeds meer as 3km se nette in die Oranjeville/Vaaldam-area gekonfiskeer. Die vang met nette kom hoofsaaklik in die Vaaldam tussen Heilbron, Oranjeville en Deneysville voor, maar daar word vermoed dat die oortreders hoofsaaklik uit die Vaaldriehoek kom.

“Hulle betree onwettig plase langs die dam, veral op grond waar die eienaars nie permanent woon nie, en gooi dan die nette uit. Hulle is redelik gesofistikeerd en doen dit op groot skaal. Hulle gebruik dubbelkajuitbakkies en ons het ook reeds mense met bootjies en buiteboordmotors gevang,” sê hy.

“Die misdadigers is beslis nie honger mense nie. Uit ondervinding het ons al gevind dit word georganiseer deur nyaope-dwelmbase wat dan die visverkope as kapitalisering vir hul dwelmbedryf en ander kriminele dade gebruik,” sê Marais.

Die ses verdagtes is deur die Oranjeville-polisie in hegtenis geneem en aangehou. Die saak word verder ondersoek.

Honderde visse is op een slag deur die onwettige hengelaars met nette gevang.

Een van die bakkievragte met vis wat onwettig in die Vaaldam gevang is.

*********************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button