News

Opdatering: Privaatspeurdiens loods soektog na vermiste Rudolf

Roete wat hy normaalweg huis toe stap, word gefynkam

 

Die bekende privaatspeurder van Imbewu Specialised Security (ISS), mnr. Rodney van Rensburg, en een van sy spanne het vroeër vanaand met ‘n soektog begin in ‘n poging om Rudolf Oosthuizen, wat gistermiddag, 13 Augustus, verdwyn het, te probeer vind.
Die soekgeselskap bestaan uit ‘n span van sowat 10 mense. ISS se honde-eenheid word ook betrek. Die span mag gedurende die aanklok-ure werk en sal die roete wat Rudolf normaalweg vanaf Vaal Mall huis toe stap (na Louisrus-hoewes) saam met die honde fynkam om te kyk of hulle enige spoor van hom kan vind. Die sekuriteitsdiens beskik ook oor hommeltuie met nagvisie wat in die soektog ingespan sal word.
Rudolf is Vrydagmiddag na werk – omstreeks 14:30 – deur ‘n kollega naby Vaal Mall in Vanderbijlpark afgelaai van waar hy altyd huis toe stap. Hy het egter nooit by die huis opgedaag nie.
Volgens sy suster, Louise, is die familie baie bekommerd omdat Rudolf ‘n verantwoordelike mens is wat altyd laat weet waar hy is. Hy weet ook hoe bekommerd die familie sal wees as hy niks van hom laat hoor nie. Hy het ten tyde van sy verdwyning twee selfone by hom gehad, maar albei is sedert gistermiddag afgeskakel.
“Indien hy dalk op pad huis toe beseer is en iewers in die veld lê, moet ons hom vind. Hy kan nie nog ‘n nag in hierdie koue buite wees nie,” sê Rodney.
* Lede van die polisie het reeds die roete gery wat Rudolf normaalweg stap, maar daar word gehoop dat Imbewu Specialised Security, wat meer hulpmiddels tot hul beskikking het, die soektog sal kan uitbrei.

Nog inligting volg soos wat die ondersoek vorder.

Lees die eerste berig oor Rudolf se verdwyning hier:

Vermiste man: Rudolf Oosthuizen verdwyn naby Vaal Mall

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button