LifestyleNews

Karooboere sê hartroerend dankie na droogtehulp uit die Vaal

Mense uit die Vaal en Heidelberg stuur hulp aan boere in droë Karoo

Skenkings van kruideniersware en ander huishoudelike middels vir die boere van Merweville kan afgelaai word by die NG Kerk Drie Rivier-Oos (Slegs van Maandae tot Vrydae voor 13h00). Die personeel in die kerkkantoor sal die kamer oopsluit. Die volgende besending hulppakke word op 31 Augustus Karoo toe gestuur.

 

Die Vaaldriehoek en Heidelberg se boeregemeenskap help nou 55 boeregesinne van Merweville, wat tans uiters swaar kry weens die droogte:

Sommige droogtegeteisterde gebiede in Suid-Afrika het die afgelope reënseisoen net-net genoeg reën gekry om weer op die been te kom, maar in groot dele van die Karoo gaan dit steeds verby ellendig.

Die langdurige droogte in die Merweville-omgewing in die Noord-Kaap, waar dit 8½ jaar laas gereën het, is nog op hul knieë. Hul kosvoorrade is gedaan en hul vee gaan by die dag dood van honger. Sommige boere wat voorheen kuddes van 3 000 of meer skape gehad het, het net 200 oor. Een boer het selfs net 10 skape oor, wat hy aan die lewe probeer hou sodat hy sy kudde weer kan opbou as die reën eendag kom.

Die lot van die Karoo-boere het boere uit die Vaaldriehoek en Heidelbergdistrik so aangegryp dat hulle vroeër vanjaar ‘n hulpprojek van stapel gestuur het.

Die Bloekomspruit Boerevereniging, die Suikerbos Distriks Boere-unie en boervroue van die Vereeniging-Heidelberggebied het intussen hande gevat om te probeer verligting bring in die huise van 55 hulpbehoewende boeregesinne van die Merweville-omgewing. Danksy plaaslike boere se persoonlike bydraes en groot ondersteuning uit die Vaaldriehoek en Heidelberg, kon twee versendings al by Merweville se mense afgelewer word.

Die volgende versendingsdatum is 31 Augustus en die organiseerders hoop om ‘n groot hoeveelheid nie-bederfbare kos, koffie, tee en algemene huisbenodigdhede soos seep en skoonmaakmiddels te kan insamel om vir die boeregesinne te stuur. Die organiseerders vra dat alle donasies hulle teen 26 Augustus bereik sodat finale logistieke reëlings getref kan word.

Plaaslike boervroue wat by die hulpprojek betrokke is, wil graag kruideniersware en spesiale geskenkbokse aan Merweville se boervroue stuur. Dit kan saam met ‘n briefie van bemoediging aan ‘n droogtegeteisterde boervrou gestuur word.

Meer besonderhede hieroor is beskikbaar by Annetjie du Toit (083 541 9908), Arina Cronjé (060 613 1109) of Elmari Botha (079 039 6722).

Skenkers wat verkies om geldelik by te dra, kan ‘n inbetaling maak in: Rekeningnaam: HL Alberts, Bankbesonderhede: ABSA, tjekrekening (632 005), Rekeningnommer: 102 094 1029, Verwysing: KD – (u van).

 

 

 

Selfs woestynplante begin nou verdor in Merweville. Foto: Karoo Blessings
Boervrou Annatjie du Toit van die Vaaldriehoek/Heidelbergdistrik, laat weet: “So is die bokse deur Hennie Alberts, ons skakelpersoon by Karoo Droogtehulp, gepak en aan 27 gesinne in nood uitgedeel. Ons hartsbegeerte is om elke tweede maand aan elkeen van die 55 gesinne van Merweville so ‘n boks te kan skenk! Daarvoor het ons mense wie se harte warm klop vir boeregesinne in die droogtegeteisterde Karoo se steun nodig!”

Lees die onderstaande briefies van dankbare boeregesinne wat tot dusver deur skenkings uit die Vaaldriehoek en Heidelberg gehelp is. Hulle het egter nog baie hulp nodig!

Merweville-Boer Johan Alberts skryf:  Goeiemôre, ek sit nou by my kombuistafel en het my bokse uitgepak en sit sprakeloos.
Ek wil net vir Suikerbos Boerevereniging asook Bloekomspruit Boerevereniging BAIE DANKIE sê want regtig dis n groot geskenk in baie moeilike tye!
Dis net weer n bewys hoe die HERE werk want ek was Vrydag in Beaufort-Wes en jy moet baie kere by n winkelrak omdraai en die besluit neem: Koop dit, of koop kos vir jou diere.
Ek het baie kruideniersware gelos en sowaar hier is dit vanoggend in my bederfbokse!
Dit laat my net weereens bewoë oor die boeregemeenskap se goedhartigheid teenoor hul medemens en hul medeboere in nood.
Baie dankie en die Here se seën op jul almal!
Johan Alberts

 *************

Tries en Belia Muller van die plaas Hammelkraal in Merweville skryf:

Goeienaand, my dag het nou tot stilstand gekom.
Vandat ek my boks vol van blessings gekry het, loop ek met ‘n vol gemoed. Hoe sê mens dankie vir engele? My beker loop oor. Dit is hier waar my woorde op raak.
My ma het altyd gesê as die nood op sy hoogste is, is die uitkoms naby!! Vandag verstaan ek dit so so goed. Genade onbeskryflik groot.
Baie dankie aan elkeen wat deel was om my lewe vir ‘n rukkie makliker te maak.
Dankie aan elkeen wat hulle tyd vir ons gegee het. Tyd om die bokse se inhoud uit te soek, te pak met liefde en om iemand te seën. Elkeen wat deel was van hierdie bokse vir droogtehulp. Die mense wat die bokse vervoer het, verdeel het en sommer almal wat deel was om ‘n boer se lewe makliker te maak. Ons het dit met twee arms en ‘n groot hart van dankbaarheid ontvang. Ons sê baie baie dankie. Ons waardeer dit meer as wat woorde kan beskryf.
Ek glo ons reën is elke dag nader.
Nogmaals dankie vir elkeen wat deel is van hierdie droogtehulp projek.
Karoo groete
Tries en Belia Muller

Skenkings van kruideniersware en ander huishoudelike middels uit die Vaaldriehoek kan afgelaai word by die NG Kerk Drie Rivier-Oos (Slegs van Maandae tot Vrydae voor 13h00). Die personeel in die kerkkantoor sal die kamer oopsluit. Meer besonderhede is beskikbaar by Annetjie du Toit (083 541 9908). Die besending vertrek 31 Augustus uit die Vaaldriehoek/Suikerbosgebied.

LUISTER NA ‘N DANKBARE BOER SE “DANKIE” BY HIERDIE SKAKEL: https://www.youtube.com/watch?v=j3bSTQMnsSY

*******************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button