HealthLifestyleNews

‘Wandelende wonderwerk’ leef al amper 13 jaar met sy ‘nuwe’ longe

Die operasie was so ‘n klinkende sukses dat dr. Paul Williams, ‘n longspesialis, vir Barnie as een van hul “wonderlikste suksesverhale” beskryf.

Nog foto’s onder

VANDERBIJLPARK. – Mense wat mnr. Barnie Brits (67) fluks in sy en sy vrou se asemrowende tuin in SE3 sien werskaf, sal moeilik kan glo dat hy in 2008 so swak en uitgeteer was weens ‘n longkwaal dat die geringste beweging bomenslike inspanning vereis het.

Danksy ‘n dubbele longoorplanting in November daardie jaar, het hy ‘n nuwe kans op lewe gekry. Vandag, amper 13 jaar later, beskryf medici hom as ‘n “wandelende wonderwerk”.

Barnie het sedert 2003 so agteruitgegaan weens oorerflike emfiseem, vererger deur 25 jaar se sigaretrook en 16 jaar se blootstelling aan chemikalieë by ‘n chemiese fabriek, dat hy self nie gedink het hy sou Kersfees 2008 sien nie.

Hy was aan ‘n plaaslike ingenieursonderneming verbonde toe hy al in 2004 weens sy siekte ongeskik verklaar is om langer te werk. Sy dokter het hom diskreet daarop voorberei dat hy sy testament in orde moes kry.

Teen 2008 het hy slegs 9% longfunksie oorgehad. Elke asemteug was ’n reuse-inspanning. Al was hy 24 uur per dag aan ‘n suurstofmasjien gekoppel, was hy later so swak dat hy soggens net met die grootste moeite uit die bed kon kom om die heel basiese take te doen. Weens die gebrek aan suurstof het sy spiere feitlik heeltemal weggekwyn. Beurtkrag is daardie jaar vir die eerste keer ingestel en was elke keer ‘n angswekkende ervaring vir Barnie, omdat hy dan van sy noodsuurstof wat net drie ure kon hou, afhanklik was.

“My enigste hoop op oorlewing was ‘n dubbele longoorplanting maar omdat ek bogemiddeld lank is en groter longe as die gemiddelde mens sou moes kry, was die kans skraal dat ‘n geskikte skenker betyds gevind sou kon word. Boonop het ek ‘n skaars bloedgroep (B negatief), wat die kanse nóg minder gemaak het,” vertel hy.

En toe, na jare se wag, kom die nuus in die vroeë oggend-ure van 29 November 2008: Daar was uiteindelik ‘n geskikte skenker wie se longe in hom oorgeplant sou kon word.

Teenstrydige emosies het mekaar afgewissel op pad na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg: Aan die een kant blydskap omdat daar dalk ‘n nuwe, gesonde lewe sou wag, teenoor die kommer oor die operasie-risiko. “En natuurlik die gedagte dat ‘n skenker besig was om te sterf terwyl dit my ‘n nuwe kans op lewe sou gee,” sê Barnie.

Die operasie was so ‘n klinkende sukses dat dr. Paul Williams, ‘n longspesialis, hom as een van hul “wonderlikste suksesverhale” beskryf. Alles was egter nie net maanskyn en rose nie. Die aand na die operasie van ses ure het hy inwendig begin bloei. Sy toestand was uiters kritiek en hy is inderhaas teruggeneem teater toe vir nóg ‘n operasie van drie ure.

Danksy baie gebede en hope wilskrag kon hy twee dae later opstaan en in ‘n stoel sit. Hoewel wankelrig, kon hy vier dae na die operasie sy eerste treë gee. Dit was ‘n prestasie omdat meeste oorplantingspasiënte eers na ‘n week kan probeer loop. Op die vyfde dag kon hy reeds uit die hoësorg-eenheid na ‘n afgesonderde privaatsaal oorgeplaas word. Nóg twee weke later is hy ontslaan om verder by sy huis in Vanderbijlpark aan te sterk. Ses maande later was hy reeds ‘n toonbeeld van gesondheid en lewenskrag.

Sy mediese fonds, Liberty Medical Aid (wat later deur Bonitas Medical Aid vervang is), het sy operasie van sowat R750 000 betaal. Hy sal vir die res van sy lewe medikasie moet gebruik om verwerping van sy nuwe longe teen te werk, maar dit is ‘n klein prys om te betaal vir die baie jare wat by sy lewe gevoeg is, sê hy.

Barnie het intussen ook prostaatkanker en twee variante van Covid-19 oorwin en wéér ‘n paar keer by die dood omgedraai, maar hy leef ‘n lewe van groot dankbaarheid. “Ek prys die Here elke dag,” sê hy.

Oor sy skenker weet hy nie veel nie, net dat dit ‘n jong man van 25 jaar was. “Ek het oneindige dankbaarheid teenoor hom en sy familie. Ondanks hulle verlies het hulle my ‘n nuwe lewe gegee. Nou kan ek my kleinkinders sien grootword,” sê Barnie.

Elke orgaanskenker kan sewe lewens red

Augustus is Nasionale Orgaanskenkers-maand – ‘n maand waartydens bewustheid geskep word sodat meer Suid-Afrikaners hulle as skenkers registreer. Hoewel Suid-Afrika ‘n wêreldleier op die gebied van orgaan- en weefseloorplantings is, het dit sedert die begin van die Covid-pandemie vir alle praktiese doeleindes tot stilstand gekom. Die gevolg is dat waglyste vir organe dramaties toegeneem het. Tans is daar sowat 4 300 Suid-Afrikaanse volwassenes en kinders wat wag op ‘n lewensreddende orgaan- of korneaoorplanting.Watter organe kan oorgeplant word?

Jou hart, lewer en pankreas kan drie lewens red, en jou niere en longe kan tot vier mense help. ‘n Orgaanskenker kan dus sewe lewens in totaal red.

Wat is die verskil tussen orgaan- en weefseloorplantings?

‘n Orgaanoorplanting vind plaas nadat ‘n individu breindood verklaar is, maar steeds deur ‘n asemhalingsmasjien ondersteun word, terwyl weefselherwinning nog enkele ure en selfs dae na die dood kan plaasvind. Organe kom nie slegs vanaf oorledenes nie, maar kan ook vanaf lewende skenkers ontvang word.

Hoe word mens ‘n potensiële orgaan- of weefselskenker?Die proses is eenvoudig. Registreer aanlyn of bel die Orgaanskenkerstigting se tolvrye nommer by 0800 22 66 11. Hulle sal dan ‘n orgaanskenkerskaartjie aan jou stuur wat jy in jou beursie bêre. Hulle sal ook ‘n plakker stuur wat jy op jou ID-dokument en jou rybewys plaas. Dit is baie belangrik om die besluit met jou gesin te bespreek.

Laat hulle weet dat jy jou organe of weefsel na jou dood wil skenk. Vra hulle om jou wens te respekteer wanneer jy te sterwe kom.Meer inligting oor hoe om as ‘n orgaanskenker te registreer, is beskikbaar by www.odf.org.za

Barnie, kort na sy longoorplanting in 2008. Sy toestand was aanvanklik kritiek.
Barnie het in die jare na sy longoorplanting ook prostaatkanker oorwin.
Twee variante van Covid-19 kon hom ook nie onderkry nie!

 

 

 

 

Barnie Brits en sy vrou, Bernardete.

***********************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button