Tydelik nie okay nie … en dis okay
Soms moet mens die negatiewe emosies in die oë kyk en bewustelik kies om anders te voel en soms moet jy saam met die emosie-golf beweeg.
‘n Jarelange vriend van my, ek noem hom die Weskus Filosoof, want hy is ‘n slimmer en wyser man as ek, sê altyd “dis okay om nie okay nie te wees nie.”
Nou ja, vandag is ek nie okay nie. Vandag wens ek die rouproses was soos my te doen lysie in my dagboek.
Dat ek die verskillende stadiums daarvan een vir een kan doodtrek.
Dis tog algemene kennis, die vyf stadiums van rou – ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding.
Ongelukkig tref hierdie goed mens nie in volgorde nie. Dis ook nie ‘n eenkeer se ding en dan is dit verby nie.
Oh nee! Jare terug, demmit dit sal November al 13 jaar wees en nou is ek sommer weer kwaad daaroor ook, toe my ander helfte dood is, het ek baie gou besef ek het my Sielkunde 101 handboek geheel verkeerd verstaan.
Die rouproses het ‘n beginpunt, maar dan is daar nie ‘n reguitlyn met ‘n punt aan die einde van ‘n jaar, twee jaar of 20 jaar nie.
Dis veel meer soos ‘n spiraal wat klein om jou begin en dan al hoe wyer om jou uitkring.
Net na die verlies dan voel dit mos daar is dae wat jy nie lekker asem kry nie. Al die emosies slaan jou van alle kante en jy wil sommer net sit en huil en huil en huil.
Maar, dit help nie. Gee net hoofpyn. Ek weet ek het nou die dag vir vier ure aanmekaar gehuil.
Want hierdie jaar het te veel geword. Want ek is getraumatiseerd. Want om my is die wêreld siek en verward en seer en baklei oor nonsens.
‘n Paar dae later was ek kwaad. Baie kwaad. Vir mense wat nie wil luister nie.
Vir mense wat nie verstaan hoe erg is dit om in die intensiewe sorgeenheid van ‘n Covid-saal te beland nie.
Wat nie verstaan van die lang rye by die begrafnisondernemer nie.
Wat hardkoppig ons almal sy lyding verleng met hul verwronge vals informasie.
Ek was kwaad vir almal wat na aan my was, wat al dood is – asof dit hulle skuld is!
Natuurlik is dit onredelik en sinneloos, maar dis die rouproses. Ek weet dit. Ek ken al die teorieë.
Maar vandag is ek nie okay nie. Ek moet die Weskus Filosoof dalk vra wat doen mens nadat jy erken het jy is nie okay nie?
Hy gryp gewoonlik sy kamera en gaan neem seevoëls af of kyk hoe spore in die sand verdwyn as die see daaroor spoel.
Ek weet daar is mense wat in sulke tye hande in die grond slaan en tuinmaak, ander verdwaal in die blaaie van ‘n boek, gaan baklei dit teen hulself uit in die gym of laat hul tekkies op die teerpad klap vir ‘n lang drafsessie.
Vir my help dit partykeer om net daaroor te skryf en om te onthou dis alles net tydelik.
Soms moet mens die negatiewe emosies in die oë kyk en bewustelik kies om anders te voel en soms moet jy saam met die emosie-golf beweeg.
Môre probeer ons weer water trap, vandag dryf ons maar net saam met die stroom.
