‘Aanhitser’ hoor Maandag (30 Augustus) oor borgtog
Die man wat glo mense aangehits het om te plunder en brande te stig tydens onlangse onluste in die Vaaldriehoek sal Maandag 30 Augustus hoor of hy op borgtog vrygelaat sal word.
VEREENIGING. – Landdros Ziphora Phage sal na verwagting more uitspraak lewer in die borgverhoor van Themba Mnisi (43).
Mnisi, die eienaar van ‘n konstruksiemaatskappy genaamd Savimbi Construction in Debonairpark, De Deur en streeksorganiseerder van die ANC in die Sedibeng-streek, is vroeër in Augustus deur die polisie se direktoraat vir die ondersoek van prioriteitsmisdade (Valke) by sy huis in Ironside in hegtenis geneem en staan nou tereg op strafregtelike aanklagte van aanhitsing tot geweld.
Dit het tydens Mnisi se borgaansoek aan die lig gekom dat hy glo op ‘n WhatsApp-groep genaamd “’Vaal Operation Dudula” gepraat het van petrolbomme, polisiewoordvoertuie aan die brand steek soos in die dae van apartheid en sélfs aanvalle op polisielede se huise.
Mnisi se regsverteenwoordiger, Jaco van Heerden, het geargumenteer dat hierdie woorde hoogstens as ‘n ydele dreigement beskou kan word, of dit nou wel Mnisi se eie woorde is op die stemboodskap of nie.

Die kwessie van ‘n telefoniese onderhoud wat Mnisi glo aan die plaaslike radiostasie Thetha FM 100.6 toegestaan het, het herhaaldelik tydens die borgaansoek ter sprake gekom.
Mnisi ontken nou dat hy ooit so ‘n onderhoud aan die radiostasie toegestaan het.
Die staatsaanklaer Reuben Chabalala sê gegewe die feit dat Mnisi nou ontken dat hy hierdie onderhoud toegestaan het, die radiostasie intussen gedagvaar is om ‘n verklaring oor die aangeleentheid uit te reik.
Die verklaring is op Vrydag 20 Augustus ontvang.

Die radiostasie het by monde van die stasiebestuurder bevestig dat Mnisi ingeskakel het en gevra het vir die onderhoud.
Daar is egter geen opname van die eerste foongesprek nie omdat die opnemer glo af was weens kragprobleme.
Volgens die verklaring het een van die radio omroepers later vir Mnisi teruggeskakel op sy selfoonnommer.
Die radio onderhoud ter sprake het op die aand van 8 Augustus plaasgevind.
Die staat het versoek om die verklaring as bewysstuk in te handig.
Van Heerden het namens Mnisi beswaar aangeteken teen die inhandiging van hierdie verklaring omdat dit volgens hom die beskuldigde kan benadeel en het gevra waarom die staat dit nie vroeër ingehandig het nie.
Hy het ook gevra watter gewig hierdie bewysstuk dra.
Phage het beslis dat die bewysstuk wel vir die doeleindes van die borgaansoek toegelaat sal word om die hof te help om tot ‘n besluit te kom.
Die staat staan borgtog teen.
Chabalala meen die staat het ‘n sterk saak teen Mnisi en het geargumenteer dat Mnisi voort kan gaan met sy aanhitsery indien hy op borgtog vrygelaat word.
Die staat hou vol dat Mnisi ‘n bedreiging is en dat hy die lewens van polisielede en publiek in gevaar kan stel indien hy op borgtog vrygelaat word.
Van Heerden verskil dat die staat ‘n sterk saak teen Mnisi het.
Hy het gesê Mnisi is bereid om al sy sosiale media rekeninge te sluit vir die duur van die hofsaak indien hy op borgtog vrygelaat sou word.
Die staat meen egter die beskuldigde kan maklik fop sosiale media profiele (“fake accounts”) skep om mense te beïnvloed om wetstoepassers aan te val.
Mnisi het tydens sy laaste verskyning op Maandag 23 Augustus ‘n swart baadjie gedra, anders as die silwer baadjie wat hy tydens sy eerste verskynings gedra het.
Hy het soos tydens vorige verskynings na die hofbanke gedraai en sy vuis triomfantlik vir sy ondersteuners gebal voordat die polisie hom af na die polisieselle begelei het.

