Rot in die laai, kokkerotte in die kas.
Ligte leesstof oor hoe kokkerotte kan sorg vir middae af en hoe om die rot-trippel-dans te doen.
Pretoria se middestad bestaan uit ou geboue met tipiese plae soos kokkerotte en die klas van creepy-crawlies.
Ons het ten minste eenmaal per kwartaal kokkerot-verlof gehad. Dan is ‘n maatskappy gehuur om die gebou van hoek tot kant met gif te spuit.
Natuurlik kan geen mens die walms inasem nie en mag ons vroeg huis toe gegaan het.
Die enigste voorwaarde was dat jy moes wag totdat jou kantoor gespuit is alvorens jy kon loop.
Om seker te maak jy kom vroeg by die huis, moes twee dinge gebeur.
Eerstens moes een persoon in die afdeling vrywillig-verplig almal se kantore sluit nadat dit gespuit is (ons het darem beurte gemaak) en tweedens moes ‘n ander persoon by die gebou se ingang gaan rondhang om te bepaal wanneer die mense gaan begin spuit.
Dan was dit baie praat en mooi pleit om seker te maak hulle spuit jou vloer eerste. Dit het somtyds gewerk, maar soms was ‘n ander afdeling voor jou daar.
Dit was nie net die kokkerotte wat amok in die ou geboue gemaak het nie. Ons afdeling was op die derde verdieping.
In my kantoor het ek twee tafels gehad. Die een was ‘n lessenaar vir my rekenaar en die ander was net ‘n houttafel met twee laaie.
Ek het byna nooit daardie laaie oopgetrek nie. Een oggend dog ek ek hoor ‘n geritsel in die laai. Ek trek die laai oop, maar sien niks.
Die dag raak besig en ek vergeet daarvan. Volgende dag hoor ek weer iets in die laai.
Trek die laai oop en is net betyds om te sien hoe verdwyn ‘n rot se stert na die ander laai toe. Die goed kan in baie klein spasies deurkruip!
Gil ek toe nou daar dat die kranse sou antwoord gee, het Pretoria regte berge gehad.
Ek storm uit en gaan trippel in die gang rond. Nie heeltemal gepas vir my rang en posisie op daardie stadium nie, maar ‘n rot is ‘n rot en ek gril vir ‘n rot!
Daardie oggend van alle oggende is net ek en ons afdelingshoof op kantoor. Met die dat ek so gil, kom hy summier uit sy kantoor gestorm.
So in die hardloop skree hy: “What’s wrong? What’s wrong?” en ek sien hy weet nie of hy eerste sy selfoon of sy sigarette moet gryp nie.
Ek trippel steeds rond asof ek ‘n groot nood het en al wat ek uitkry is: “Rat! Rat! My office!”
Plaas dat my geagte baas tot my redding kom, gil hy ook en ons storm saam vir die uitgang. Intussen kom die skoonmaker, Anna die gang af, baie nuuskierig oor al die konsternasie.
Op daardie stadium lag ek te veel vir onse bestuurder wat rondtrap asof daar tien rotte agter hom aan is. Hy kry die probleem oorvertel.
Ons kom uiteindelik tot bedaring en met Anna die dapperste van ons drie wat die voortou neem, sleep-dra ons die tafel tot by die brandtrap.
Ons sit die tafel op sy kant neer, hoop dit voeter nie by die trappe af nie en staan vinnig agteruit.
Op ‘n veilige afstand kyk ons hoe Anna die laai met ‘n besemstok oopkarring.
Die arme rot het sekerlik teen daardie tyd al harsingskudding gehad.
Die oomblik toe sy die laai oop het, is die rot met ‘n spoed die brandtrappe af.
Die res van die afdeling het lekker gelag toe hulle later van die voorval hoor.
Hulle het ons bietjie geterg oor ons gang-trippel, maar bygevoeg dat hulle bly was hulle is nie gevra om die rot te verwyder nie!
