HealthNews

Virus saai chaos in paartjie se blink toekoms

“Ons moes ekstreme en drastiese besluite neem toe ons Dewald na privaatinstansies laat oorplaas het, maar aan die einde kan daar nie ‘n prys op ‘n geliefde se lewe geplaas word nie"

VAALPARK. – Vir Dewald Kloppers en Natassja Hefer, ‘n jong paartjie van die Vaaldriehoek, het die toekoms teen einde Junie vanjaar nog blink gewink.

Albei het pas afgestudeer: Dewald het sy kwalifikasie as chemiese analis aan VUT verwerf en Natassja ‘n honneursgraad in Rekenaarwetenskap aan die NWU. Na ‘n verhouding van ses jaar het hulle in April verloof geraak en opgewonde begin trouplanne maak. Maar toe kom Covid-19 met sy verwoestende effek…

Dewald is op 2 Julie positief getoets en omdat hy nie ‘n mediese fonds het nie, is hy op 7 Julie in ‘n plaaslike staatshospitaal opgeneem. Hy het egter vinnig verswak en sy longfunksie het drasties agteruitgegaan.

“Dit was ‘n geval van lewe of dood en ons moes dringend alternatiewe reëlings tref,” sê Natassja. “Ons het hom op 10 Julie by Cormed-hospitaal laat opneem, waar hy baie goeie behandeling ontvang het,” sê sy.

Dewald is op 14 Julie ontslaan, maar het kort daarna ‘n sekondêre infeksie opgedoen. Sy lewe het weer in die weegskaal gehang. Daar was geen beddens in plaaslike staatshospitale beskikbaar nie en hy is op 21 Julie weer in Cormed opgeneem, waar hy vir vier weke behandel is – drie weke daarvan in die hoësorgeenheid en twee weke op ‘n ventilator. ‘n Dreineringsbuis moes ook direk in sy long geplaas word nadat dit platgeval het.

Weer eens is hy deurgehaal, maar die nagevolge van Covid-19 was enorm. Sy longe is erg verswak en beskadig gelaat. Hoewel hy op 16 Augustus ontslaan kon word, moes hy van vooraf leer loop en om basiese take uit te voer, soos om self te eet.

Dit was steeds nie die einde van Dewald se beproewing nie. Op 1 September het hy weer ‘n groot terugslag gehad en is na Netcare se ongevalle-afdeling in Pretoria geneem, waar x-strale, ‘n CT-skandering en bloedtoetse bevestig het dat ‘n klein bloedklontjie reeds deur sy hart is. Dit het net voor sy longe as ‘n “saddle” embolis vasgesteek, waar dit tot ‘n massiewe klont ontwikkel het. Dewald moes dadelik intensiewe sorg kry en is na die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria oorgeplaas, waar hy tot 10 September behandel is.

Na ‘n totaal van 48 dae in hospitale sterk hy nou tuis aan. Hy moet vir ses maande ‘n bloedverdunner neem en gereelde bloedtoetse laat doen om verdere klonte te voorkom.

Dit is egter nie net sy gesondheid wat die paartjie slapelose nagte besorg nie. Hoewel hulle reeds R50 000 van sy mediese rekeninge betaal het, is daar nog meer as R240 000 uitstaande.

Dewald het etlike jare by Master Science in Vanderbijlpark gewerk, maar het einde Mei bedank om in Junie in ‘n nuwe pos as chemiese analis by ‘n onderneming in Pretoria te begin, waar hy op ‘n proeftyd van drie maande aangestel is. Met dié dat hy die afgelope twee maande nie kon werk nie, is dit nog onseker of hy steeds ‘n pos en inkomste gaan hê wanneer hy weer kan begin werk.

Die familie het reeds hul persoonlike geldelike bronne uitgeput om soveel van sy mediese koste as moontlik self te betaal, en loods ook verskeie insamelingsprojekte in die hoop om genoeg bymekaar te maak vir die uitstaande bedrag.

“Ons vra nederig vir die ondersteuning van ons projekte of vir donasies – maak nie saak hoe klein dit is nie,” sê Natassja se ma, mev. Elize Hefer.

“Ons moes ekstreme en drastiese besluite neem toe ons Dewald na privaatinstansies laat oorplaas het, maar aan die einde kan daar nie ‘n prys op ‘n geliefde se lewe geplaas word nie. Ons sou enigiets doen om hom ‘n beter kans op herstel te gee,” sê sy.

Mense wat graag bydraes wil maak of die familie se insamelingsprojekte wil ondersteun, is welkom om Elize te kontak by 082 895 6264.

Donasies kan ook direk inbetaal word by Cormed Clinic, ABSA-tjekrekening: 520163069, takkode: 632005, verwysing: COR136627.

Dewald en die familie bedank al die dokters en personeel wat hom met soveel toewyding behandel het.

Dewald was hier steeds ernstig siek in die hospitaal.
Dewald Kloppers en sy verloofde, Natassja Hefer, voordat hy siek geword het.

*****************************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button