News

AfriForum ‘red’ duisende blikkies bier op R59-snelweg

“Ons buurtwag vul verskeie rolle en is nie bang om die moue op te rol en te help waar dit nodig is nie”

 

MEYERTON. – AfriForum se ywerige lede is nie net bekend daarvoor dat hulle inwoners help om hul woongebiede te verfraai en hul onmiddellike infrastruktuur in stand te hou nie. Soms help hulle selfs om ‘n vrag bier wat van ‘n trok afgeval het, weer bymekaar te maak en teen potensiële “herwinnaars” te beskerm.

Dit is wat lede van AfriForum Alberton verlede Vrydag gedoen het, toe hulle hoor dat ‘n vragmotor sy vrag op die R59-snelweg, net verby Kliprivier in Midvaal, verloor het.

Volgens Pieter Swart van AfriForum Alberton is lede van dié tak vinnig na die toneel nadat hulle van die voorval gehoor het. Met hul aankoms het hulle gesien dat duisende blikkies bier oor die hoofweg gestrooi gelê het. ‘n Groot groep plunderaars het reeds daarop toegesak. Daar was ook nog baie palette vol bier in die vragmotor, en wetstoepassers was bekommerd dat die “herwinnaars” dit ook gaan probeer buit. Verskeie rolspelers, insluitende AfriForum Alberton se patrolleerders, het die plunderaars van die vragmotor af weggehou en uiteindelik seker gemaak dat die vrag veilig op ‘n ander vragmotor gelaai is. “Ons buurtwag vul verskeie rolle en is nie bang om die moue op te rol en te help waar dit nodig is nie,” sê Pieter.

Lede van AfriForum Alberton het potensiële plunderaars op ‘n veilige afstand gehou terwyl die verlore vrag bier opgetel is. Lede van AfriForum het ook toegesien dat die vrag veilig in ‘n ander trok oorgepak en weggeneem is.

****************************************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button