HealthNews

Wees ‘borsbewus’ in die mooiste maand

Die Kankervereniging (Kansa) sê dit is belangrik om vroue te bemagtig met kennis oor hoe om risiko’s vir kanker te verlaag en bewus te wees van waarskuwingstekens

Oktober is nie net die mooiste maand in Suid-Afrika nie. Dit is ook nasionale Borsbewusmakingsmaand om vroue daaraan te herinner om hul borste gereeld te ondersoek vir knoppies of enige afwykings.

Statistiek dui aan dat een uit 27 vroue in hul leeftyd borskanker sal opdoen. Die siekte kom in sowat 80% van gediagnoseerde gevalle by vroue ouer as 50 voor, maar jonger vroue én mans kan dit ook opdoen.

Die Kankervereniging (Kansa) sê dit is belangrik om vroue te bemagtig met kennis oor hoe om risiko’s vir kanker te verlaag en bewus te wees van waarskuwingstekens. Vroue word aangemoedig om self maandeliks borsondersoeke te doen, jaarlikse mediese ondersoeke te ondergaan en gereelde siftingstoetse vir kanker te laat doen.

Dit kan vroeë opsporing verbeter omdat simptome nie altyd ervaar word voordat die kanker reeds versprei het nie.

Die meeste gevalle van borskanker word met behulp van mammogramme gediagnoseer, hoewel ‘n groot aantal eerste deur die pasiënt self opgemerk word. Bevindinge toon dat siftingsmammogramme vroeë behandeling fasiliteer en dus die kanse om van borskanker te sterf, verminder.

Dit is belangrik om “borsbewus” te wees. Weet hoe jou borste normaalweg lyk en voel. Wees op die uitkyk vir enige veranderinge soos ‘n knop, tepelafskeiding, velverandering of verandering in grootte van een bors. Indien jy iets ongewoon opmerk of bekommerd is, raadpleeg gerus jou dokter.

Goeie nuus is dat die gemiddelde 5-jaar-oorlewingsyfer vir vroue wat in ‘n vroeë stadium van die siekte gediagnoseer en behandel word, tussen 90% en 99% is.

Doen dus vandag jou selfondersoek of maak ‘n afspraak vir ‘n mammogram as jy 100% gemoedsrus wil hê.

*******************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button