SASOLBURG. – ‘n Sasolburgse predikant ontvang tans behandeling teen bilharzia, ‘n siekte wat normaalweg net in subtropiese dele van Suid-Afrika en ander lande met ongesuiwerde, besmette water voorkom.
Hy is egter nie die enigste een nie: ‘n Mediese dokter van Drie Riviere, wat versoek het om anoniem te bly, het Maandag aan Vaalweekblad bevestig dat drie gevalle van bilharzia onlangs in sy praktyk gediagnoseer is. Dit is die eerste keer dat hy die siekte in die Vaaldriehoek teëkom by pasiënte wat nie in bekende bilharzia-streke was nie.
Ds. Jan Botha, die afgelope 11 jaar leraar van die NG Gemeente Sasolburg Sentraal, sê hy het onlangs grieperig gevoel en die aand bloed in sy uriene opgemerk. Omdat hy bekommerd was dat hy dalk Covid-19 of ‘n urienweginfeksie opgedoen het, is hy die volgende oggend dokter toe, waar verskeie toetse en skanderings gedoen is. Bloedtoetse het bevestig dat hy bilharzia onder lede het.
“Ek weet nie hoe ek dit opgedoen het nie. Ek was nie op enige snaakse plekke nie,” sê hy. Hoewel veilige en doeltreffende behandeling vir die aandoening beskikbaar is, is dit ‘n intensiewe regime wat daaruit bestaan dat hy drie keer per dag nege pille moet sluk, ses ure uitmekaar. “Dit krap ‘n mens se maag behoorlik om en moet na ‘n week herhaal word,” sê hy.
Omdat hy nie in ‘n gebied was wat normaalweg met bilharzia geassosieer word nie, is sy enigste verklaring dat hy die siekte tuis deur besmette huishoudelike water opgedoen het.
“Ek drink nog altyd gewone kraanwater maar sal van nou af liewer gebottelde drinkwater koop,” sê hy.
In Suid-Afrika word die bilharzia-parasiet (skistosoma*) gewoonlik net in die Laeveld en ander subtropiese gebiede se riviere, varswaterstrome en panne aangetref, maar dit kom ook in tropiese en subtropiese lande in Afrika, suid van die Sahara, en in ander derdewêreldgebiede voor.
Riviere en ander varswatermassas raak besmet deur skistosoma-eiers wanneer mense wat reeds die aandoening het, in die water urineer of ontlas. Die eiers broei uit en as sekere soorte varswaterslakke in die water teenwoordig is, groei en ontwikkel die parasiete in hul eerste lewenstadium binne-in die slakke. In die volgende stadium verlaat die parasiet die slak en kan dan 48 uur lank in die water bly leef. As ‘n mens dan van die water drink, daarin swem of bad of selfs net deur die water stap, kan jy besmet word omdat die parasiet maklik ‘n mens se vel binnedring. Die volwasse parasiet is sowat 1 cm lank en omtrent ‘n tiende so dik.
Sodra die wyfieparasiet eiers begin lê, kan die besmette persoon simptome soos hoofpyn, grieperigheid, kouekoors, hoes, spier- en gewrigspyne ervaar. Bloed kan ook in die urine voorkom. Om dié rede staan die siekte in die volksmond as “rooiwater” bekend. Indien die toestand nie behandel word nie, kan dit met verloop van tyd ‘n mens se lewer, ingewande, longe en blaas beskadig. Hoewel dit baie selde gebeur, kan die parasiete se eiers in ‘n gevorderde stadium ook die brein of rugmurg binnedring en epilepsie, verlamming of rugmurgontsteking veroorsaak. Tydige behandeling sal dié moontlikheid heeltemal uitskakel.
Dit is raadsaam om drinkwater waarvan die gehalte verdag is, minstens ’n minuut lank te kook. Dit sal alle skadelike parasiete, bakterieë en ander organismes dood. Die water kan dan gedrink word as dit afgekoel het. Ongesuiwerde badwater moet vir minstens vyf minute tot sowat 70°C verhit word om klaar te speel met skadelike parasiete.
* Bron: Wêreldgesondheidsorganisasie – https://www.who.int/


***********************************************************************************************

