
Angelique Greffrath het pas haar vierde enkelsnit, Aan die maan se kant uitgereik, en met dié snit, wat sy saam met Johan Meyer opgeneem het, bereik sy ’n nuwe musikale crescendo wat haar nou as een van die beste sangeresse in die Afrikaanse musiekbedryf kan vestig.
Dit is veral daardie Bonnie Tyler-agtige krakie wat haar stem aan die einde van die liedjie maak, wat die snit so uniek maak. “Ek het die liedjie opgeneem net nadat ek van Covid-19 herstel het. Met die gevolg was die natuurlike kraak in my stem versterk, en pas toe perfek by die toon van die liedjie,” vertel Angelique.
Angelique en Johan was jare gelede deel van die rockgroep Tradisie Masjien, en hulle stemme het mekaar toe al pasknap aangevul.
“Aan die maan se kant is juis in daardie stadium van ons lewe gebore. Ons het die liedjie saam op verhoë gesing, maar het dit nooit laat opneem nie,” sê Angelique oor die samewerking. “Die liedjie is nie ‘n duet nie. Ons sing elkeen ons eie strofes.”
Die liedjie is deur Jade Storm van Storm Music Productions vervaardig.
Aan die maan se kant is ’n volwasse kontemporêre ballade wat oor die mens – veral mans – se dodelike stryd teen negatiwiteit handel. “Ons het in ’n era grootgeword waar mans nie mag kla of gehuil het nie. Hy moes maar eenvoudig op sy tande kners en voortbeur teen die ‘bloed en sweet en trane’ van die lewe,” sê Angelique.
Dié tema van die stryd teen negatiwiteit word goed in die eerste strofe van die liedjie, wat deur Johan gesing word, verwoord. “… skepties op die oog af, maar ek dink dis realisties, soos die bloed en sweet en trane wat die lewe nog kan verg…”
Angelique is ook ’n liedjieskrywer van formaat; dit het sy duidelik gemaak met haar vorige Engelse enkelsnit vrystelling, Safe Outside, wat nationale asook internationale hoogtes bereik het en nogsteeds bereik. Aan die maan se kant handel ook tematies oor die verwoestende effek wat die pandemie op die mens het.
Angelique meen dat met die finansiële en persoonlike verwoesting wat die pandemie tot gevolg het, stoei duisende mense ook nou daagliks met die negatiewe. “Dit is die negatiwiteit wat aangevuur word deur teleurstelling oor hoe die lewe uitgedraai het en die onvermoë om enigiets daaraan te doen.”
Johan en Angelique hoop dat Aan die maan se kant mense sal motiveer om hulself nie met die negatiewe te bemoei nie, maar eerder sal aanhits om aan te hou glo en vorentoe beweeg en te besef dat die lewe n reis is gevul met aspirasie en inspirasie wat deur die kompas van die hart in die regte rigting gestuur word; n plek wat huiswaarts keer. Daarom is daar nie plek vir opgee nie.
Luister na die pragtige lied op You Tube:
https://www.youtube.com/watch?v=PaM7wM-t-xg
******************************************************************************************

